Tjillie- en gemmerkonserf


Ek vrek oor tjillies.

Miskien omdat die vruggies wat aan die bossies sit in rooi, pers, groen, geel en oranje my vir een of ander rede, aan ‘n krismisboom laat dink.

Hier in Bethesda groei tjillies asof hul betaal word en kry ek gereeld handevol geskenk van Carla en André wat my lievde vir die spesiale vruggies ken. Ons kry die Cayenne, Bird’s eye, Habernero – my gunsteling, Jalapeño en Seranno hier aan’t huise. Hoe kleiner die tjillie, hoe sterker skop hy.

Tjillies is baie gesond en het vele voordele, onder andere is dit propvol vitamien C en uitstekend as ‘n gemoedsopkikker, daarom is dit belangrik om in die Inperkingstyd elke dag daarvan eet.

Vernon, die man wat vir my mampoer skenk, sit gereeld ‘n paar tjillies in die mampoer, die tjillie trek deur die mampoer en is heerlik. Jy kan jou eie tjillie vodka of gin maak deur een of twee van die vruggies in jou bottels te sit en vir ‘n wyle in die kas te laat staan om deur te trek.

Die wondervruggies kom oorspronklik van Bolivia en Paraguay en word al vir meer as 9000 jaar gebruik in die voorbereiding van kos. Pluk die tjillies as hul dieprooi is van kleur en hou in die groenterak, of droog vir wanneer jy nodig of verwerk en bottel vir wanneer die tjillielus jou vat.

Ek liev die smaak van gemmer saam met tjillie. Die konserf is op sy heel beste saam met ‘n sterk kaas, of bak ‘n heel brie, as jy dit kan bekostig, in die oond en gooi van die tjilliestroop oor as jy dit uit die oond haal of maak braaibroodjies en smeer van die stroop bo-oor jou kaas, tamatie en uie – lievlik!

Tjillie en gemmerkonserf

500g tjillies in stukkies gekap, saad en al as jy dit sterk wil hê

150g vars gemmer in stukkies gekap

250ml wit druifasyn

250g witsuiker

2t sout

1t witpeper

½t kaneel

½t steranys of gewone anys, fyn gestamp

Gooi die gekapte gemmer en tjillies in gesteriliseerde glasbottels. Bring die res van die bestanddele tot kookpunt en kook vir 5min. Gooi die kokende stroop oor die tjillies. Bottel en plaas in jou koelkas.

Groete uit Nieu-Bethesda

Onthou al my resepte is vir eenvoudkos. Skryf gerus saam op my blog, dis altyd lekker om van lesers te hoor.

Published by niël stemmet

skrywer van 3 erfeniskos-storieboeke : sout+peper | agter+blad | bitter+soet. kopiereg voorbehou | concept and copyright protected : neil stemmet 2020

2 thoughts on “Tjillie- en gemmerkonserf

  1. Niël,
    Jou skrywes is pragtig, die disse lyk heerlik en die resepte se gestrooptheid en eenvoud staan my aan.

    Jou gebottelde lekkerte was ‘n fees! Dankie. En die tjillies was ‘n plesier.

    Seënwense

Leave a reply to niël stemmet Cancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.