Dié kind onthou rooi granate


Dié kind onthou rooi  granate

Ek onthou granate in kind, as juwele. Vir my was elke pit ‘n edelsteen wat soos robyne rooi glim.

Ek dink dat die wysemanne hul geskenke as ‘n trommel granaatpitte geoffer het, saam met ‘n trommel soet dadels en in die laaste trommel: pekanneute. 

As kind kon ek altyd my verbeelding teuels gee, en in elke droom kon ek stories waarheid, in my eige mond se taal.

Ek onthou granate in die ou tuine as ‘n pronkstruik. Omtrent elke werf het sy eie granaatbos gehad, en in die voorwinter het hul swaar hand gedra wat jy volhand kon pluk.

As die granaat oopbars

aan die einde van die somer

Wil ek sterf

Om in die soom van die lente 

Weer ‘n jongkind te wees.

So skryf ek toe ek sestien was, en vandag besef ek dat wanner ons eendag die laaste afdraai vat op onse pad, ons sal droom, en watter droom is beter as om jou kindwees te gedy. 

Ek onthou ‘n kiekie met ‘n witraam, van my toe ek omtrent vyf was, waar ek in ‘n granaatrooi broek en hemp kaalvoet staan met my duim in my mond, buite ons wit gekalkte huisie met die twee slaapkamers en die voorhuis-kombuis waar die koolstoof warm maak, sy rook altyd ‘n pluim wat teen die blou jimmel, wit teken.

Daar was bloekoms agter die huis, ek kon vir ure met die boombas ‘karrekies’ en plaas-plaas speel. Die reuk van die bloekomblare het ek altyd neus gevat. Dis ‘n reuk wat ek tot vandag, my kindwees, toe-eien. 

Ek onthou die gronddam voor die huis en die eende wat in sirkels watertrap. Oor die dam se sig, die vallei van Dassieshoek waar ek, my ma Elise, my pa Kowie en my kleinboet Herman bly, saam met my Oom Driek, sy vrou Henriette en my gelievde oupa Koot en my vashou-ouma Nellie. 

Daar was ‘n plaasskool waar juffrou Ella die vallei se kinders met kryte op leie les gee, terwyl die tortels buite in die akkerbome koer-koer speel, en ek oopmond sit en droom.

Veral nou, waar soveel mense in inperking leef, is om te ontsnap na jou kind-se-tyd, ‘n ontvlugting wat jou vlerke gee.

Bo die huisie, die wasgoedlyn wat blou voorskooi en menigte luiers sonmaak. Agter die waslyn die waenhuis van modderstene gebou en verder op die berg met sy miljuisende proteas. Ek onthou die bergrosies wat kom onderbo hang, granaatpitrooi is hul wange en sag witgrys hul monde. Daar was steenbokkies wat soms grootoog kom kuier het en in die winter spinnekopwebbe geweef tussen takkies, wat vroemore diamante dra.

Hier in Bethesda, groei granate geil. En word daar kwistig agter die soetrooi van die pitte gekou.

Ek stuur vir jou ‘n bak granate, neem een tussen jou hande en ruik die son en stof, vat die pitte mond en word weer kind, want om ‘n kind in jou te laat leef is die grootste geskenk wat jy jouse-self kan gee.

Veral nou.

Lievde uit Bethesda.

Published by niël stemmet

skrywer van 3 erfeniskos-storieboeke : sout+peper | agter+blad | bitter+soet. kopiereg voorbehou | concept and copyright protected : neil stemmet 2020

2 thoughts on “Dié kind onthou rooi granate

  1. Niel, jy beskryf jou kindwees só mooi. Ek onthou so goed die blondekop seuntjie met die rooi pakkie, duim in die mond. Ek onthou ons eenvoudige huisie. Ek onthou die miljuisende proteas. Vrydae as die huisie blinkskoon was, het ek proteas gaan pluk, dit gerangskik en op die imbuia kis in die gang gesit. Vir twee jaar het jy die septer daar in Dassieshoek geswaai en hoeveel vreugde het jy nie in ons lewens gebring nie! Geniet die rooi granate wat nog altyd die verbeelding van skrywers aangegryp het. Ek onthou Audrey Blignaut se boek Die Rooi Granaat. Ek is bly dat Bethesda weer jou kindwees na vore bring. Hierdie ou moeder geniet dit so om in hierdie grendeltyd die vreemdheid van alles te ontvlug en saam met die blouoog seuntjie terug te stap in die verre verlede.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: