Die reuk van Sondaghoender


Photo by Engin Akyurt on Pexels.com

Sondag was ons stiltedag as kind. Op Sondae is daar briek opgetrek om die week se gejaag tot einde te bring en stil te word in jouself en ook om die tafel van Sondagkos.

Sondae had ‘n bekoring van klank vir my. Miskien was dit die wakker word, met die gebeier van die kerkklokke wat van die eenkant van die dorp oorbeier na die anderkant, so asof die een klok die ander eggo.

Die klokkespel wat my wakker maak en sag optel uit die nag se slaap. Ek wat my ogies vryf, my lyfie uitstrek en net bietjie langer probeer inlê, so asof ek die klokklanke langer wil vashou, koester in my kop.

Miskien was dit die tortelduiwe wat op ‘n Sondag soeter stemroep na mekaar. Die mossies wat onder die perskeboom by my kamervenster onbesadig jaagmekaar speel. Die swart- en wit kat wat hier aan my voete haar lê en strek asof sy haar rug wil langer rek. Die hond wat stertswaaiend in die gang afstap, sy nat neus hier onder my kop kom indruk om my hande te soek vir ‘n kopvryf.  

Die geluide uit die kombuis waar die klanke op Sondag anders was as deur die week. Sondae was daar die geluid van die oonddeur, die roosterbak wat in en uitskuif en saam met die geluide, die reuk van oondgebakte plaashoender.

Elke weeksdag was vleisdag, heerlike skaapvleis gebak saam met aartappels, frikkadelle, beesstert, gekrummelde varktjops, maar Sondae was dit hoender. Hoender was ons Sondagvleis, en onse kinders was lief vir hoender.

In daardie dae het hoenders nog son geken, buite in die jaart rondgehardloop, op soek na krieke, erdwurms al skroppende soekend na grondkos. Ek was mal oor hoenders, om te kyk hoe hulle verwoed skrop, hoe die mammahen al kloekende haar kinders naderroep as sy ‘n grondlekkerny met hulle wil deel. Hoe die kuikens onder haar vlerke uitloer as hulle vaak hul ogies knip vir die son se lig.

Ek was bang vir die groothaan, by name Pikkekêk met die bloedrooi kam wat regop staan as hy kwaad raak. Hy het my altyd gejaag, seker omdat ek toe ‘n ek klein was ‘n rooi oorpakkie oor my kindlyf gedra het. 

My ma het die hoender ingevryf met botter, sout en witpeper. Binne in die maag van die hoender sit sy ‘n heel ui waarin sy 3 naeltjies druk en dan druk sy ‘n suurlemoen tussen die boude in. Die hoender word in die oondpan gebak by 200C°.  My ma maak die oonddeur al om die kwartier oop en skep van die hoendervet bo-oor die hoender. Die hoender bak goudbruin tot die vel opgepof en bros is. Saam met die hoender maak sy goue bros-braaiaartappels, groenertjies met suiker en ment, blomkool met witsous en sneeurys waaroor sy die hoender se sous skep.

Aan tafel sny my pa die hoender. Dit was sy bydrae tot die Sondagmaal en ook om vir ons elkeen ‘n kelkie steenwyn te skink.  Altyd vra hy: “witvleis, of bruinvleis Niël?” In daardie dae had hoenders wit en bruinvleis. Die witvleis was hier om die bors en die bene en vlerkies was bruin omdat hulle spiere had van al die rondhardloop en skrop.

Ek onthou baie goed van my kinderdae, maar die reuk van oondgeroosterde hoender sal ewig, tot ek my oë sluit, my Sondagreuk bly.

In die reuk van die bros gebakte heerlikheid gedenk ek die seisoene van my lewe. Word ek stil en wens ek weer dat ek opeens jongkind kon wees. Omdat ek in dié vervloë tyd huppelend die veld kon verken, daar waar die heide in soveel kleure van pers, lappies gooi berglangs, teen die Langeberge uit.

Dalene se lamribbetjie in Kaapstad se stilte.


My buurvrou kan kook. En die lekkerste is dat ek nooit weet wanner die foon gaan lui, en sy sê kom oor buurman ons eet oor 10 minute. Dan is my dag gemaak, en sommer my aand ook.

Daar is ‘n mooi om, om ‘n kombuistafel te sit en net koeitjies en kalfies te gesels, terwyl die kosbakke voor jou aandag-staan. En wat is nou lekkerder as opgekookte kool met botter en neut, tuinbeet ingelê in asyn gegooi met witpeper, en die vreugde van gestoofde lamribbetjie en aartappels.

Neffens die jammerlap en so tussenin deur ‘n glasie van haar man, Vernon se witblits wat hy met tjillie vry.

Ons praat oor die stilte van nou in dorpe, maar veral in stede. Dalene se seun, Attie bly in Los Angeles en het vriende in New York. Daar en oral is meer as die helfte van die stede se sentrale sakekern se besighede toe.

Gister plaas ‘n skrywersvriend Herman Lategan ‘n fotobeeld van die middestad van Kaapstad.

Ek ken Kaapstad van kindwees toe ons so eenkeer op ‘n maand deurgery vanaf Robertson vir grootmaat-koop groceries en om op die Kaapse Parade vir bargains te bargain. Na die koop is ons op met die roltrappe na die derde vloer van die OK Bazaars se kafeteria waar ons gaan uiteet het. Opslag altyd ‘n ham-, kaas- en tamatieroosterbroodjie met slaptjips of ‘n hamburger met baie tamatiesous vir ons kinders, en vis- en tjips vir ma en pa en natuurlik ‘n groot cream soda of strawberry milkshake of ‘n coke float vir elkeen van ons.

Ons het elkeen 5 sent sakgeld gekry en daarmee het ons Simba se hoen’er tjips gekoop en ‘n botteltjie Coke. Die parade met die venters, die rolle materiaal wat jy per jaart gekoop het. Die blommeverkopers met hul miljuisende kleure van tuinblomme en die tongproe Afrikaans wat tot vandag my gunsteling Afrikaans is: Koep ‘n stroepsoet pe’ske vir die merrim, twie virri prys van ien. Koep somme twintag of ‘n boksvol vir jêm.

Oë ma mêrrim het moei oeë, amper soe moei soes die blou seteen. Special prys vir merrim, neve’ toe-bie-repietet net 2 rand ‘n jaart. Sal pragtig lyk op mêrrim se settee.

Snoeeeeeeek, lekkkkkke snoeeeeeek, naai hysie pap is, hy kry net soe biekie wa’m maste’.

Maste’ gie da ‘n paa sente vir die Heilsleer se bênd. Oeeee die Hie’re Kristus God van Genade seeeeeën vir maste’ en die mêrrim en jul drie seunkinners. Het maste’ nie nog ‘n paar sente nie, ons kry swaa soe met die onheiligeid van die mense.

Koep virrie mêrrim ‘n bos blomme dan smile master vanaand. Is soe maste’ sal elke wiek kô koep. Mô’e is hoeka So’dag maste’.

En doer onner van die stasie af ‘n babalas skreeu: Jou mase poes!

Op Groentemarkplein het ek later jare my nuutste modeklere gekoop, die mark was boheems en ‘n vreugde vir ‘n plaasjapie. Daar het ek my eerste ‘railway’ silwer gekoop en ook LP’s langespeelplate en die nuutste seven singles. Kristalkrafies, geblomde damasktafeldoeke en Sergeant Pepper se weermagklere, boot’s en Franse-legioen belts.

Dan afstap na Café Mozart vir iets lekker om te eet, by die tafeltjies wat op Kerkstraat se cobble stene uitgepak was. As ek reg onthou het die rooimalvas guitig saam met blou lobelias in die hangblombakke geblom en was die sambrele blou en wit. Daar was altyd ‘n kitaar-busker wat vir die hoed gespeel het en wanner sy stem stil was: Mozart se klavierkonserte wat by die deuruit sleep gooi oor die tafels.

Die gallerye van Kerkstraat het my liefde vir kuns ontwikkel en vir baie jare het ek kuns gekoop by die Cape Gallery wat ek met 12 vooruitgedateerde Volkskastjeks betaal het. Ashbey’s Auction House was ‘n nuwe ontdekking en by die veilings het ek alles van meubels tot ou Persiese matte gekoop.

Later jare het ek ‘n woonstel gehad in Adderleystraat. Ek het by al die kleinbesighede my kosgoed en mooigoed gekoop, en was gou op speaking terms met al die eienaars.

Saans het ek opgestap deur die Kompanjietuine en vir die eekhorings peanuts gegooi oppad na die Labia waar ek Europese Kunsfilms geniet het met ‘n gin en tonic in die hand. Na movie en lang gesprekke oor die Fransefliek is ons af Langstraat toe verby al die pubs en restaurante wat vir elke kleur en geur Afrikaner oop was. Die nagklanke van Langstraat sal my altyd bybly: Jazz, Kwaito, busking en die doef-doef van die disco’s. Ek onthou spesifiek die Africa Cafe en Clarke’s Bookstore waar ek ure kon kuier in die boekwinkel waar die stofreuk van boeke vir my parfuum was.

Op end is ons in die nagklubs in. Hier het ons in stovepipes en blomhemde gedans tot die son opkom. Buite die reuk van dagga, pie, ou drank, boerewors rolls, duiwe en koffie wat jou moeë voete, ore en oë groet.

Terug na Herman se foto essay oor die middestad van die Kaap, my mooiste Kaap met sy al om die 24 uur, 12 uur kanon, wat jou laat weet dat jy net in Kaapstad kan wees. En Herman se foto op foto van die dood van Kaapstad se middestad en veral Langstraat in die nagmerrie van 2020 inperking.

Ek het net eenwoord om die absolute hartseer te beskryf: ondenkbaar.

Terug na my ete by my buurvrou.

Eet Dalene se ribbetjie en gedenk die saamsit om tafel. Die voorreg van gesels en die voorreg om Kaapstad te onthou soos sy ons altyd Moederstad was en met hoop, weer sal wees.

Een lamribbetjie of twee. Laat lê oop in die yskas vir 2 dae. Geur met sout en gemaalde swartpeper. Plaas in ‘n oondbak met ‘n deksel, ‘n braaivleisbak werk lekker. Sny ‘n paar aartappels in wiggies, stip met kookolie en geur met sout, pak om die ribbetjies. Sit die deksel op en bak vir ‘n uur teen 180°C. Sit die stoof op 140°C en bak verder deksel op, tot die vleis van die bene afval.

Die vleis smaak nes gebakte lamblad. Hy maak onder in die bak sy eie heerlike sout- en pepersous. As jy wil kan jy net voor opdien ‘n hele suurlemoen uitdruk oor die bedevleis.

Eenvoudkos.

Heerlike kos.

Seënkos.

Geniet die Sondag, daar gaan weer lente kom, ons moet net aanhou hoop. Want die kinders moet weer mÿ Kaapstad sien.

Yvonne se gemmerpoeding


Om ‘n Sondag te middag, soos toe ek kind was, is ‘n lekkerte wat jy soos vanmelewe se dae in jou kies sit en stadig lekker tot net die soet in jou kop se binnekas agterbly.

Van kindaf was Sondae vir my altyd my droomdag. Daar is ‘n stilte in Sondag wat jy nie kan woord nie. Hier in Bethesda, is Sondae nog soos die Sondae was in my kind-se-onthou-se-tyd.

Vroegmore raak ek wakker en maak die kliphuis se luike oop om die tortelduiwe se sang binne-te-nooi. Buite onder die skoonste blou lig, lê die sneeu, wit uitgesif oor die plante, oor die ringmuur die heuwels uit tot in die Sneeuberge, al die pad haelwit teen die kruin van die Kompasberg se boonste piek wat jimmel roep.

Hoe verwoord jy dié mooi wat om jou is en in jou hart kom bly.?

Op middag sit ek aan by ‘n langtafel aan’t huise van Ian en Yvonne du Plessis, hier in Bethesda. Ian het heerlik gebraai en soos van ouds sit ons om die langtafel en gesels terwyl ons saam Sondag eet. Geen selfone wat ons tyd steel, of ‘n tv wat raas, niks, net ons.

Yvonne vertel in ‘n opvolgbrief na die kuier vir my:

Hallo Niël 

Ek heg vir jou die resepte aan van Michelle se gebraaide aartappels asook die twee gebakte poedings wat ons Sondag (23 Aug 2020) by Klein Ganora geëet het.  [nota, die resepte sal volg in volgende skrywes]

Ek het wonderlike kinderjare gehad op die plaas Ganora saam met my pa en ma,  Gardner en Nora van Niekerk,  asook my broer, Gardner wat 12 jaar ouer as ek is. Hulle het eers vir Wilgebosch gehuur en toe hulle die plaas in 1937 koop,  was die naam Africanderskloof. Maar omdat my pa Engelsprekend was en ook ‘n destydse SAP was (!), het hulle dit verander na Ganora – ‘n kombinasie van hul name – Gardner en Nora.  My pa en ma het die huidige ruim plaashuis self ontwerp en laat bou.  

Ek het vanaf Sub A tot in St 4 op Bethesda skoolgegaan en het in die week by my ma se suster, Tannie Lettie Kritzinger gebly in die huis in Nuwestraat,  wat vandag Pienaar Kritzinger se huis heet. Hy was haar seun.  Dit behoort nou aan sy dogter, Christa (Kritzinger) Scholtz.   Tannie Lettie was die enigste onderwyseres asook die skoolhoof.  Daar was in my tyd slegs tussen 10-13 kinders op skool en alle klasse vanaf Sub tot in St 5 was saam in een klas!. Daar was geen buitemuurse aktiwiteite nie en ons het smiddae heerlik fiets gery en in die watervore en rivier met kleilatte gespeel. Ons het net Sondagskool Dinsdag middae gehad (omdat baie van ons plaaskinders was) en Donderdag middae was dit Kinderkrans – agter in die ou kerksaal, in die vertrek met die buitedeur wat wes front.  

Helen Maartens het dikwels saans by my Tannie Lettie ‘n lekker bord gekookte kos kom eet en soms het sy oorgeslaap.  Sy het dit maar skraal gehad en baie swart,  soet tee gedrink.  Tannie Lettie het dikwels met haar geraas want sy het nie baie kos gekoop nie en die meeste van haar geld op haar sementbeelde uitgegee. 

Bethesda se kerk is ook vir my baie spesiaal,  met baie herinneringe.  My ma was 4 toe die kerk in 1904 ingewy is.  My pa is vanuit die kerk in 1961 begrawe en so ook my ma,  in 2002. My oudste dogter, Marie en haar man is in 2010 in die kerk getroud.   

Vanaf St 5 is ek na Union High School op Graaff-Reinet waar ek en ma saam gewoon het in die huis in Caledonstraat 65 (vandag Reinet Studio).  Na matriek is ek na Stellenbosch Universiteit waar ek vir Ian du Plessis ontmoet het. Ons is aan die einde van 1971 op n jeugdige ouderdom getroud, soos dit toe die gewoonte was. 

Ons het vir 30 jaar in PE gewoon. Ian het daar by n praktyk aangesluit, ons het ons twee dogters, Marié en Michelle en ons seun Neil,  daar grootgemaak en ek het studeer en klas gegee by verskillende opvoedkundige instansies.  In 2004 het ons alles verkoop en Ian het as skeepsdokter op die passasierskepe gaan werk. Ek kon my werk op  die Internet voortsit en dus het ek saamgegaan en so het ons groot dele van die wêreld gesien en beleef.   In 2017 het Ian afgetree. 

Ons het Klein Ganora in 1980 en n hele klomp erwe daarmee saam vir n skamele R11 000-00 gekoop. Ons het dit vir jare lank slegs vir naweke gebruik.  In 2009 het ons begin om die huis te restoureer. Ons drie kinders is al drie getroud met twee kinders elk en hulle woon in Kaapstad en in die Paarl. Nou migreer ons tussen ons meenthuis op Stellenbosch en Klein Ganora hier op Nieu-Bethesda. 

Jammer, ek besef nou dit is heeltemal te lank!  

Groete

Yvonne

Soveel dankie Yvonne vir die pad deur jou lewe en onse geliefde Bethesda. Dis hoe dit moet wees. Stories van vanmelewe se dae, want in die onthou lê die padkaart van ons almal se lewens.

Ek gaan my Sondae mis in Bethesda, ek gaan elke dag mis wanner ek see toe koers kry, want die see is ‘n ander mooi as hier.

Hier is die niks mooi, kry jy mooi in alles om jou wat jy sien en beleef. En om saam met ‘n familie brood te breek is mooi. En om ‘n storiebrief te kry van een van die pilare van Bethesda is baie spesiaal vir my.

Yvonne het by ‘n kuier saam met Elsie en Buks Vogel op die plaas Rondefontein, die resep Elise se Gemmerpoeding gekry. Ek deel graag die heerlike poeding. Bedien met dubbeldik jogurt of plaasroom.

Stel oond op 180 ° C. 

Maak heel eerste die stroop: 

1 k suiker 

2 k kookwater

1 t gemmer 

Meng alles goed in pot, roer en bring tot kookpunt en hou warm. 

Droë bestanddele:

1½ k meel

1 e fyn gemmer 

1 t fyn kaneel 

1 t koeksoda 

bietjie sout 

1 k suiker 

Sif alles saam (behalwe die suiker). Voeg daarna die suiker by. 

Nat bestanddele:

1 k melk

1 geklitse eier 

½ k Canola olie 

2 e fyn appelkooskonfyt  

Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng goed. 

Gooi eers die warm stroop in die gesmeerde bak en gooi daarna die loperige deegmengsel bo-oor die stroop. Dit klink vreemd maar dit werk ! 

Bak vir 30 minute of tot gaar.

Maak die heerlike poeding vir jou mense volgende Sondag, en sit om jou langtafel en vertel stories, seblief.

Groete uit Bethesda waar die son, die sneeu reeds nat gemaak het en die tortels vandag nog mooier as ooit koer-koer roep in die peperboom in die voortuin.

roosmaryn sjokolade mousse


Hier in Bethesda groei roosmaryn of dit betaal word. In almal se tuine is daar roosmaryn, hetsy as struike of pragtig gesnoei as heinings.

Roosmaryn kom oorspronklik van die Mediterreense lande en is soos tiemie, basiliekruid, oregano en laventel familie van die Lamiaceae-mentspesie.

Ek maak gereeld in die winter roosmaryntee as ek ‘n verkoue-krapperigheid in my keel voel. Die wetenskaplike naam van roosmaryn is Rosmarinus officinalis, en die lang moeilike woord beteken: ‘Mis van die see’. Dis nou mooi. In die tyd van Inperking mis ek my reise na Italië, Spanje, Griekeland en Portugal en as ek weer eendag kan reis gaan ek beslis die roosmaryn soek wat aan die see geur mis.

Roosmaryn is sinoniem met skaapvleis, aartappels en hoender, maar met sjokolade ‘n nuwigheid vir my. Carla van Bruno’s eetplek op Bethesda het haar resep met my gedeel.

roosmaryn sjokolade mousse [4]

¼ koppie roosmaryn- of laventelblaartjies

250ml houer room 

2 x 80g plakke sjokolade – Bournville se donkersjokolade of melksjokolade

Verhit die room stadig in ‘n dikboomkastrol, voeg die kruie by en prut baie stadig vir 30 minute.

Verwyder die kruie en giet die room deur deur ‘n sif. Gooi die room weer terug in die kastrol met die temperatuur op die laagste stelling. 

Breek die sjokolade in klein stukkies en voeg dit by die room. Roer met ‘n houtlepel totdat die sjokolade gesmelt is. Roer die sjokolade en die room goed deur.

Giet in klein espresso koffiekoppies en laat stol in die yskas. Jy kan die resep verdubbel of vertrippel. Let wel ‘n klein porsie is genoeg, selfs vir ‘n soettand. En as jy ekstra geld het koop Lindt se 90% sjokolade vir ‘n minder soet weergawe.

Ek sit altyd peper by sjokolade, so as jy daarvan hou, kan jy gerus ‘n knippie peper in die room sit.

Groete uit Nieu-Bethesda

Kontak Carla by http://www.thebethesda.co.za

Maketaan konserf


Die wit waatlemoen was as kind vir ons ‘n snaakse waatlemoen. Ons het verseg om ons monde aan die groen waatlemoen te sit wat op mond kompleet soos water geproe het en glad nie soet soos die watertand stroopsoet, donkerpienk, somer waatlemoene wat ons op nuwejaar geëet het nie.

Op kind is die Maketaan op ‘n ander naam geroep, maar dié woord is na die einde van Apartheid onguur verklaar.

Om dié konfytstukke te kook moet jy geduld en tyd hê. Maar dit is een bêrebottel wat jy ten minste een keer in jou lewe moet aandurf, al is dit net om simpatie te lewer aan ons voorsate wat met soveel deernis bêrekos gespens het.

Skil die maketaan dun af, en daarna in skywe van sowat 3cm. Verwyder die sagte pit-binnegedeeltes en sny die witskil-skywe in 3cm blokkies, dws 3cm by 3cm blokkies.

Prik die stukke baie goed en laat oornag in ‘n plastiekemmer met kalkwater week. Op 5 liter water gebruik jy 30ml kalk – jy koop dit by die apteek, of jy kan koeksoda in plek van die kalk gebruik. Die volgende more spoel jy die waatlemoenstukke ordentlik af en laat lê dit vir 2 ure in skoonwater. Spoel weer goed af.

Op 1kg vrug gebruik jy 1kg suiker, 1½ liter water, 2 eetlepels vars suurlemoensap, knypie sout, knypie witpeper en 1 teelepel fyn gemmer.

Strooi die suiker oor die vrugte en laat staan oornag. Die volgende more gooi jy die suurlemoensap, sout, peper, gemmer en water by die suikervrugte. Hou jou houtlepel byderhand om te roer. Kook die konfytstukke vinnig vir sowat 1½ uur tot die vrugte deurskynend is. Bottel in gesteriliseerde bottels.

Jy gaan stroop oorhê. Meng die stroop met koue water en suurlemoensap vir ‘n somerlafenis.

Eet saam met met vars wit brood wat jy dik met plaasbotter smeer, klam biltong en ‘n lekker sterk Cheddarkaas.

As jy Nieu-Bethesda kom besoek, stap gerus in by Tot-Hier-Toe Padstal waar Chrissie Swarts en haar span vroue heerlike tuisgemaakte konfyte en ander lekkernye verkoop. Ek het dié konserf by haar gekry. Jy kan sommer ‘opstôk’ op beskuit, vleis, strope, ‘you-name-iet’ en heerlike salami.

Groete uit Nieu-Bethesda.

pampoenpoffers


My geliefde kok Emily het vir meer as 25 jaar pampoenpoffers gemaak wat ons by meeste van ons hoofgeregte bedien het, te Le Must Restaurant in Upington. Gaste het van heinde en verre gekom om die poffers te kom eet. En hoe langer die poffers staan, hoe taaier en lekkerder raak hulle. So jy kan hul maar ‘n ruk voor ete maak.

Jy kan ook die poffers bedien met vla of griekse jogurt, dan roep jy die poffers poeding.

Ek het onlangs weer pampoenpoffers aan huise van Ansie Malherbe, van die plaas Waterval geëet.

Pampoenpoffers

750 g gaar boerpampoen

2 eiers

1 t sout

2 k bruismeel

3 t bakpoeier

2 k sonneblomolie

stroop

2 k suiker

1 k water

½ k room of melk

2 e botter

knippie sout en knippie witpeper

½ t kaneel

½ t fyn gemmer

2 t Maizena

Klop die pampoen, eiers en sout baie goed saam tot romerig. Sif die bruismeel en bakpoeier 3 keer saam en roer goed deur die pampoen tot jy ‘n sagte deeg het. Verhit die olie tot matige hitte, skep lepelsvol van die beslag in die warm olie en braai tot goudbruin. [ Skep eerder minder beslag op ‘n keer, sodat jy die poffers maklik kan omdraai.] Plaas die poffers op kombuispapier om olie te dreineer. Hou warm. Verhit al die stroopbestanddele, behalwe die Maziena, tot kookpunt. Meng die Maizena met bietjie water tot die Maizena lyk soos dikmelk. Roer die Maizena deur die warmstroop tot die stroop verdik. Gooi die warmstroop oor die poffers.

Geniet die ou-se-dae se lekkerte.

Groete uit Bethesda. As jy ‘n lekker eenvoudresep het wat jy wil deel, stuur asseblief ek sal die graag wil sien.

Botterskorsie -en wortelslaai


Van kindsbeen af is ek lief vir wortels, altyd wanneer daar wortelslaai gemaak is, het ek van kleinhandjies af, stukke wortels mond toe gevat en die soet versot.

Op ‘n manier proe wortels vir my na lemoen, en is elke wortelslaai ook vir my sinoniem met pynappel.

Gisteraand was hier ‘n bring en braai by Boetie se Pub, in Bethesda. Die braai was opeinde net een groot gekuier vir die kleine dorpie se almalmense wat honger was vir ‘n menskuier na die vier maande van inperking.

So gesellig die vure wat brand, die opgewonde gesels en nuus-uitruil onder die donkerjimmel waar die sterre in hul miljoene oor ons span. Later stap ek huis-toe en hoor ek die gemurmer van stemme, steeds toe ek deur die drif stap.

Daar is ‘n stilte in ‘n mens as jy so luister.

Botterskorsie -en lemoenslaai

1 bos vars wortels

1 botterskorsie

1 pynappel

1 middelslag ui

1 duim vars gemmer

1 knoffelhuisie

1 rooi tjillie fyngekap

3 lemoene opgekap in stukkies + die sap

4 e dubbeldik yogurt

1 e gekapte mentblare – opsioneel

water of lemoensap

sout, witpeper, paprika

Rasper wortels, botterskorsie en pynappel saam op die growwekant van jou rasper. Rasper die uie, gemmer en knoffelhuisie aan die fynkant van die rasper. Voeg die gekapte lemoene en sap, asook die tjillie en ment by en meng alles goed deur. Voeg die jogurt by. Geur met sout, peper en paprika. Toets die slaai, as hy nog vog kort gooi lemoensap by of water.

Die slaai is heerlik, maak hom ‘n dag voor die tyd, hoelanger hy staan hoe lekkerder.

Groete uit Bethesda.

Ouma Cruywagen-poeding


Ansie Malherbe neé De Klerk is die eienaar van die mooie plaas Waterval saam met haar man Johan. Jy kan gerus die afrit vat by name Erasmuskloof, baie naby aan Graaff Reinet, en met die kronkelpad ry tot jy by hul afrit kom.

Ansie is ‘n feetjiemens en glo nog in kabouters. Dis regtig pragtig om haar plaasvakansie-gastehuis te besoek: http://www.watervalfarmstay.co.za. Kinders sal dit lief om daar rond te speel soos ou van tyd en hul verbeelding vrye teuels te gee in die feetjietuin. Geniet die natuurskoon op die plaas en veral die waterval waar jy in ‘n groot kuil kan swem.

Ek deel een van haar resepte. Lekker soetsuur poeding.

4 eiers

6 e suiker

6 e meelblom

1 ml sout

4 ½ k melk

2 stukkies pypkaneel

2 e botter

gerasperde neut

Klits die eiers en die suiker baie goed saam. Roer die meelblom en sout deur in figuur 8 metode. Bring melk tot kookpunt en voeg by eiermengsel. Roer aanhouded tot jy vla-tekstuur het. Gooi in vuurvaste gesmeerde oondskottel, sit pypkaneel in en rasper neut bo-oor. Bak vir 30min in 180C oond. Bedien dadelik met appelkooskonfyt en plaasroom.

Groete uit Nieu Bethesda.

Kersfees in Bethesda


Al my lewe deur se pad was die wit van sneeu vir my Kersfees, seker omdat die Krismiskaartjies van ouds, altyd ‘n Krismisvader had wat op sy sleë met die rendiere oor die sneeu baan.

Hier in Bethesda het ons die tyd van 2020-Inperking reeds 6 keer sneeu gekry, wat dié dorpie in die hart van die Sneeuberge met wit versiersuiker strooi.

Dis anders om hier in dié wereld wat Karoo gedoop is, in die natuur van uiterstes, sneeu te beleef.

Dis moeilik om te verwoord hoe die koppies in die sneeu dy, die berge wit glim en die populierwoude strak in die sneeutapyt jimmel baan. Hoe die skape, die beeste en die bokke in die sneeu wei. Swart kraaie swerm maak oor die populierwoud en ‘n bruinvalk teen die witlig ets.

Die rivierlope koud kaats met die sneeu wat die gras wit kombers.

Dis ‘n eietyd se stilte dié, ‘n tyd wat jy weer met jouself praat, jou arms om jou lyf slaan, jou oë in jou palms saggies bak hou.

Ek onthou Kersfees in Europa, veral in die goue stad van Praag, die Kersmarkte met die reuk van warm sjokolade, geroosterde kastanjes, geurige glüwein, varkworsies wat kolebraai, appel-pannekoek en ander Krismisheerlikhede.

En elke keer wat ek sneeu sien, is dit Kersfees vir my.

Sneeu se lied is stilte, die vlokkies vlinderdans lig al om jou, sag val hul op jou gesig, jou hande, jou mond. En in dié oomblik is jy so dankbaar om dié dag te aanskou en te beleef – jou eie te roep.

En dat alles wat in die wereld om jou gebeur vergete is.

Ek stuur vir jou die stilte van sneeu en oë om dit te sien, as ‘n middel van die jaar Krismisboks.

Groete uit die hart van die Sneeuberge.

Merai se lamribbetjie


Ina Botha van die plaas Kareelaagte is ‘n voorslagboervrou soos my ouma sou sê. Haarse hande staan vir niks verkeerd nie.

Laasweek se aand het ons by haar en Francois aan’t huise gaan eet en sy het vir ons Merai se ribbetjie oondgebak. Die ribbetjie is vernoem na haar dogter Arijana, wat elke keer as sy huiswaarts keer vir Ina vra om haar gunsteling ribbetjie oond te bak.

Mens moet bysê dat Ina bekend is vir haar heerlike vleis wat sy self verwerk op die plaas, so as jy na die Sneeuberge-wereld van ons reis, bestel jou vleis by haar. Jy sal nie spyt wees nie.

Sy het die ribbetjie saam met stywepap bedien wat sy ordentlik met die lamvet deurgewerk het. Dis heerlik.

Ek ken nie soetribbetjie nie, wel by varkvleis, so dié ribbetjie was ‘n heerlike verrassing.

Sny die ribbetjie vol diamante aan die vetkant. Vryf in met Six Gun speserye en Marsala kerriepoeier. Verf appelkooskonfyt bo-oor, Ina sê jy kan maar kwistig wees met die konfyt en die Six Gun. Bak vir sowat 2 ure teen 150C.

Geniet die heerlikheid van Kareelaagte om ‘n eetkamertafel, met die jammerlappie wat jy omte stuur en lekker sterk plaaskoffie om die geil hok te slaan.

O’ja en lag terwyl jy smul, ons het omtrent staaltjies gedeel so met die eet saam.

Groete uit Nieu Bethesda.

wat is die jimmel?


Ek word ouer – en hoe ouer ek word, hoe meer kom bly die jimmel in my kop. Nie die hemel van die Kinderbybel nie, maar die jimmel van my eie stilte.

In dié stilte is daar musiek, altyd klavier. Donker, swaar akkoorde wat my siel vashou en my voete vasanker op die aarde. Simfonieë wat my arms optel en my hoog deur die lug laat vlieg, om die Melkweg van my gedagtes weer te besoek.

Lirieke wat my vlerke gee om die hemel te deurkruis op soek na siele wat, soos ek, die musiek van stilte ken. Hoe ouer jy word, hoe meer soek jy die mense op wat iewers in jou lewe ‘n oomblik, ‘n dag, ‘n maand, ‘n jaar met jou gedeel het. Mense wat dieselfde as jy voel oor dít wat was, wat is en wat nog gaan kom. 

Soos ek ouer word, word my kindwees kleiner en kleiner.

Staan ek voor my drome, my vingers voor my uitgestrek 

en

probeer ek my kindwees weer aanraak, 

die oomblikke toe die son in my oë skuiling gesoek het,

weer nader trek.

Maar dit is of die drome kerkkranse om het, 

of die stof ‘n gordyn van waas om my drome vou, 

of my vingers nie weer my drome kan aanraak nie. 

Hulle bly weghardloop van my af wat hulle weer wil opvryf,

blink vryf, 

waar maak. 

Al is dit net om hulle een maal weer styf

vas te hou en weer 

te beleef.

As ons ouer word, word ons siele stiller. Dis vir my of die lewe sagter in my kop kom bly – as ek dit toelaat.

Hier waar ek by die tafel sit met die rekenaar voor my, die pot tee regs van my.

Hier is my stilte. 

Hier is my musiek. 

My lewe wat nou weer kiekie vir kiekie trajek in my kop. 

In my eie stilte is my eie verlange na dít wat my heelmaak 

… sag verbeeld.

As ons ouer word, leer ken ons weer die geur van mense in onse dag. As ek in die blomveld agter die huis stap, ruik ek die heuning van die grootword-plaas, waar ek in die soom van die lente jubelend ‘n jongkind was. Is die bloeisels vir my hoop, my lig, my kaart, mye.

As ek ‘n brood uit die oond haal, gedenk ek my voorgeslagte: my oupas, oumas, my grootjies. Dié mense na wie ek opgekyk het, wat doei-se-tyd soveel meer wysheid as ek gehad het. 

Ek het gesien hoe hou Ouma my van die stoep af dop hou as ek oor die werf hardloop. 

Min het ek besef sy mis my bene, 

my hare wat waai in die wind, 

die son wat my kleinkind-wange soen, 

my gedagtes wat onbesoedeld was, 

my bedoelings wat nog edel was, 

die jonkheid van my lyf. 

Het sy haarself gevra: 

Waar is my tyd heen, 

my eie kindwees, 

my eie drome, 

my eie lewe?

Noudat ek in die winter van my lewe staan, 

droom ek oor ‘n nuwe jimmel

waarin ek my kop gaan neerlê

vir my ewige slaap. 

Ek het soveel keer in my lewe vir die ouer mense gevra: Hoe voel dit om oud te word? Dan antwoord hulle: Dit voel of jy ewig jonk is – ouderdom is net ‘n woord.

En ek het hulle geglo.

Vandag wandel ek in my lewe rond. Deurweek my gedagtes met my skooldae, my kinderdae, my eerste soen, my eerste gewaarwording van wat dit beteken om werklik die lewe vas te hou. Jubelend die lewe te beleef met volle energie en ryke verbeelding.

Ek sit in stilte; die musiek van my jeug speel in my kop en hou my vas. Ek probeer om weer my drome vas te vang, weer dít te voel wat ek gevoel het toe ek jonk was en die horlosie nie so vinnig getiek-tok het soos vandag nie. Toe die voorreg om jonk te wees en werklik te leef nie net ‘n gedagte was nie.

Elke dag is so kosbaar. 

Dit besef ek vandag. 

Elke dag is so uniek, 

met sy eie son, 

sy eie sterre, 

sy eie maan, 

sy eie wind, 

sy eie reent. 

Elke dag is my eie tree op die aarde, wat ek mý aarde noem. 

Elke dag is mý voorreg, wanneer ek so kan sit en skryf

Elke dag is mý voorreg. 

Want al wat ek weet, is: my jimmel is op pad, 

en tyd 

is so kosbaar. 

Punt.

Opgedra aan my ma, en al die ouer mense wat nou reeds meer as 4 maande gegrendel is.

2020 dankbaar


Ek wonder soms in dié tyd of ons nie verby die mooi kyk wat die natuur elke dag vir ons oophand geskenk gee.

Elke dag lees ek die nuus, soek of daar iewers tussen die woorde wat lieg waarheid sterk.

Soms in die middel van die dag kyk ek om my, en dink die Inperking is ‘n droom. Ek moet net wakker raak.

Dan kyk ek op in die lug, en dis steeds blou. Ek kyk na die klipkoppie agter die huis waar die suurgras na die baie reent hoog in goud lig. Bo my ‘n valk wat klief. Die opgewonde sang-sang van die voeltjies. In die verte skape wat blêr en om my die tuin wat in die lig van die son winterslaap.

Vanaand ry ek uit Kompasberg se rigting. Die son kom sak net vir my.

Die mooi laat my stilstaan en binne myself kyk. Jy moet dankbaar wees vir soveel mooi om jou.

Soms is daar die helderste lig, in die donkerte.

Kyk die lig wink jou vas teen hom.

Groete uit Nieu Bethesda.

die reuk van sondag braaihoender


Van kindaf was Sondag braaihoender se dag. Daar was genoeg vleis vir gedurende die week, heerlike skaaptjops gebak saam met aartappels, vleisbolletjies, gekrummelde varktjops, beesstert, wildspastei, boerekerrie en natuurlik al wat ‘n bredie is. 

Maar Sondae was dit braaihoender. Ek raak wakker met die duiwe wat buite my kamer in die akkerboom mekaar die hofmaak. Die hoenderhenne wat pik-pik-pe-kek en kloek-kloek saam met die donskuikens tuingoggas en wurmpies soek. Die trotse goudbruin- en swarthaan by name Martiens wat bo al die henne waak en ons wat kinders is se voete jaag met sy skerp bek. Dan skree ek altyd: “As jy dit weer doen is dit pot toe met jou Martiens!.” Martiens gee my een kyk, gooi sy rooi kam anderkant toe en storm in ‘n stofstreep voort oor die werf.

In die verte slaan die kerkklok agtuur. Tyd vir opstaan met die Sondag geure wat in die gang afkom en onder deur die deur, na hier waar ek in die bed se laaste warmte lê, die reuk myse neus kom vul. Ek bad, trek aan: pakklere, das, blink skoolskoene, hare oordentlik gekam, na agter met Vitalis. Dan is ons almal in die blink gewaste Fairmont – kerktoe, daarna Sondagskool en na wat vir my soos ‘n ewigheid voel is ons weer by die huis. Reg vir die Sondag se om die tafel eet. 

Onthou jy die kelkies rooi muskadel, die yskoue KWV steenwyn, die gestyfde damasktafeldoek, die geborduurde lapservette, die familiesilwer, die tuinrose gerangskik in ‘n ronde posie in die middel van die tafel, die grammafoon wat die langspeelplate van Virginia Lee, Heintjie en Gê Korsten speel, in aanwag vir die familie-aansit-ete?. Die staanhorlosie wat die minute aftik in die gang en ons in gelid sitplek laat inneem met die slaan van eenuur?.

Die warm porselein bakke met die kos: blomkool met witsous, sneeuwitrys, gemmer-soetpatats, tuinertjies met suiker- en ment, bros gebraaide aartappels, skaapboud en dan natuurlik, vir my die hoogtepunt: die Sondagbraaihoender. Buite is sy vel brosbruin, hy lê kompleet die hele vleisbord vol. My Pa sny die vleis en vra witvleis of bruinvleis Niël?. Ek vat soos altyd die boudjie, skep van die hoender-se-sous oor die witrys wat langs die boudjie lepellê. Al die ander Sondagkos kry plek op my warm bord. En dan eet ons my Ma en Ai Eva se heerlike kos.

Vandag nog as ek my klein-se-tyd verlang maak ek ‘n braaihoender. Die probleem is net dat jy vandag baie ver moet soek om ‘n regte plaashoender te kry. Die padstal, neffens Nieu Bethesda verkoop sulke hoenders, yslike groot geel hoenders wat nog wit en bruin vleis het, omdat die hoenders die vreugde van buitelig en goggas ken. 

Ek voel altyd ‘n mens moet sulke vleis seen as jy dit bewerk. Ek staan in die kombuis, vryf die hoender in met botter, sout en witpeper. In sy maag sit ek ‘n ui waarin ek twee naeltjies druk en hier agter druk ek ‘n tuinsuurlemoen in. Die oond moet baie warm wees 200C. Plaas die hoender in ‘n bakpan bo in die oond en braai hom. Draai elke 15 minute met twee lepels op ’n ander sy en gooi van die pansappe oor. Na gelang van die grote van die plaashoender behoort hy gaar te wees na sowat 70 minute.   

As jy die hoender tafel toe neem sal jou hele kindwees se verlede weer kom trajek in jou kop, as jy jouself toelaat, dat die verlange en die ouse dae sy pad kan kom vat met jou.

Nou dat mens ouer raak kom kry jy jou kort-kort dat jou oë mis trek, asof dit na ‘n leeftyd se droogte uiteindelik ‘n landsreen oor jou wat mens is wil laat uitsak.

Die geur van Sondag braaihoender maak die oudae weer helder in jou verstand.

Jy word opsluut weer kind en onthou die stilte van Sondae, toe geen winkel, rekenaar, slimfoon of tablet jou verbeelding gesteel het nie.

Toe Sondae nog Sondae was en hoenders nog soos plaashoenders geproe en geruik het.

Rys met melk en neut


My oupa was so lief vir rys met plaasmelk, ‘n stukke botter en neut bo-oor gerasper en vir afwisseling ‘n skeut kaneel.

Ouma het altyd uit die aandkooksel rys meer gemaak en vir oupa in die koelkas gebêre. Volgende more met brekvis het oupa sy rys geëet en afgesluk met sy swart moerkoffie wat van voordag neffens van die stoof staan en trek het. Onse kinners het die koffie sakkoffie geroep, omdat die sakkie waarin die moer was gewoonlik van ‘n Springbok tabaksakkie gestik is.

Nou met die herleef van eenvoudtyd, stof ek gereeld my kindwees onthou af en kom bly die kosbare herinneringe weer kop.

Ek wonder wat sou oupa gesê het van die grendeltyd. Soos oupa is ek ‘n natuurkind en sou ek mal geword het as ek ingeperk was en nie in die Kanaän van Bethesda kon bly nie.

Geniet my oupa se ryskos.

Lievde groete uit Nieu Bethesda.

Koolbredie


Kool is een van my gunsteling groentes, of jy nou kool rou eet, as ‘n slaai, opgekook met ‘n skeut botter en ‘n raafsel neut, of jy hom toedraai in foelie en in die vuur gaarmaak of as jy hom maak met lam in ‘n koolbredie. Kool bly net plein lekker.

Kool moet sekerlik nie nederigste groente wees. Jy koop hom vandag nog vir ‘n appel en ‘n ei. En as hy vars van die land af kom is hy op sy lekkerste.

Neem ‘n paar uie en ‘n paar toontjies knoffel. Smoor sag in botter. Haal die uie uit die pot. Plaas skaapskenkels in die pot en verbruin. Sit die uie terug in die pot en sit aartappels by. Gooi water by om die vleis net-net te bedek. Prut stadig tot die vleis en aartappels amper sag is. Gooi die gesnyde kool by, sowel as ‘n gekapte tjillie of twee. Geur met witpeper. Stowe tot die kool saam met die aartappels en vleis sag is. Gooi genoeg sout by en ‘n paar raafsels neut. Druk die sap van my suurlemoen oor die bredie en roer ‘n groot klont koue botter deur.

Proe en as jy tevrede is, skep in ‘n sopbord. Sny ‘n paar snye witbrood, smeer met botter en eet saam met die koolbredie.

Groete uit Nieu Bethesda

Wors+patat+bone in paprikaroom


Ek praat vanaand met my vriendin in Graaff Reinet. Sy het hoenderpastei vir haar gesin gemaak. Vra sy wat eet jy? Sê ek: Jong meeste aande moer ek ‘n spul goed in die swartpot en hoop vir die beste.

Vanaand se kos is ‘n goeie aand se lekker-moerby-kos.

Kook ‘n paar patats in die skil tot sag. Trek die velletjies af, sny die patats in blokkies en hou eenkant. Braai uie in ‘n swartpot saam met knoffel en gerookte paprika todat die groente deurskynend is. Plaas wors bo-op die uie en sit die deksel op. Prut todat die wors gaar is – 15 minute. Voeg die patats by die wors saam met geblikte botterbone en suurroom of yogurt. Prut vir sowat 15 minute. Proe en geur met sout en maalpeper.

Die gereg laat my op manier aan Hongaarse Goulash dink. Dis hoogtyd dat ek dit vir ‘n slag maak. Kyk uit vir die resep.

Groete uit Nieu Bethesda.

Carla se lemoenkoek


Hier in Bethesda is ons geseën met uitstekende kokke wat werklik lekker kos maak. Van wilds- en hoenderpasteie, ingelegte kwepers, tuisgemaakte pasta, heerlike brood en beskuit tot en met bier en vars gemaalde koffie.

Van die plase kry ons die lekkerste skaap-, wilds-, bees- en varkvleis. Die room, melk, jogurt, kase en tuisgemaakte feta sal jou lieries maak.

Sê ‘n vriendin nou die dag. As jy in Bethesda bly kort jy eintlik niks. Die dorpie is voorwaar die land van melk en heuning: Kanaan.

Ek deel vandag Carla van Bruno’s Restaurant en Bethesda Gastehuis se heerlike lemoenkoek. Bedien die koek met dubbeldik Griekse jogurt en lemoenkonserf.

125g botter

125ml versiersuiker

3 groot eiers – geskei

1 lemoen se oranjeskil, fyn gerasper

5ml vanielje

250ml semolina

125ml koekmeel

7ml bakpoeier

stroop

300ml suiker

600ml water

2 kaneelstokke

sap van 1 lemoen en 1 suurlemoen

Room die botter en die eiers goed, voeg die eiergele, vanielje en lemoenskil by. Sif die semolina, meel en bakpoeier saam. Roer die meel bietjie vir bietjie by die eierroom. Klits die eierwitte en vou stadig in die beslag. Smeer ‘n bakpan en voeg beslag in pan. Bak in die middel van jou oond vir 30min teen 180°C. Toets of die koek gaar is deur liggies met jou vingers bo-op die koek te druk. As die koek terugspring is hy gaar. Terwyl die koek bak maak jy die stroop deur die suiker, water en kaneel te prut vir sowat 20min. Gooi die sap van die vrugte by die stroop en gooi die warm stroop oor die gaar koek.

Maak ‘n lekker pot Earl Grey tee, gaan sit in die son en droom van Nieu Bethesda.

Karoolam se blad


Ek sit altyd die skenkel by die blad. Die blad lyk groter en vir my, soos ’n bak offerkos.

Ek het dié woord offerkos gepen baie jare terug. As ek kos met respek ontvang en hanteer offer ek dit aan my liggaam as voed en as seen. Ons Oumas het altyd die skottels Sondagkos met twee hande tafel gedra. Daar was altyd ‘n stille gewydheid in die ritueel. Ons almal by die lang geelhouttafel met die geborduurde damask tafeldoek. Die Alfred Meakin borde, die kristal wynkelkies, die beenmes silwer. Ouma se bossies tuinblomme in die kristalvase en voor ons die gestyfte servette. Op die klok van eenuur word dit stil om tafel. Dan dra Ouma saam met Ai Miena die kos tafel. Die vleisbord word voor Oupa gesit. Oupa sê ogies toe. Dan bid hy die seen, terwyl ons almal handhou om tafel.

Ek probeer altyd om iets nuuts te probeer met ‘n blad, maar ek gaan elke keer terug na my eerste mond van lam.

Ouma het die lam ingevryf met sout, witpeper en geskroeide koljandersaad. Jy laat lê die blad droog in jou koelkas vir minimum 2 dae.

Sit die vleis bak en bak teen 140C tot jou genieting. Ek vind dat net so meer as twee ure genoeg is, algaande die grote van die blad. Voel die vleis, as dit sag druk met ‘n vurk is die blad reg.

Onthou tog om op aand witbrood te botter, skywe van die blad mosterd te veeg en saam met gesnyde tamatie en uie brood te vat. Gooi met sout en witpeper. Jy kan ook ‘n veeg mayonaise bysit en en as jy ghrênd wil wees rokketblare.

Boonste broodjies roep ek Sondag se aandbroodjies.

Skaapwors op kool


Kool en skaapwors, wen kombinasie.

Ek sit aan’t dink. Hoekom hou ek so baie van kool en wors?. Toe kom dit by my op: koolfrikkadelle.

Iemand vra eendag: Watter bordkos sal jy wil eet as jou laaste maal. Sê ek sonder om te twyfel: koolfrikkadelle.

So, die makliker weergawe is as volg. Sny kool en uie op. Braai die uie tot sag en deurskynend. Sit die kool by en kook stadig in ‘n bietjie water tot neffens van sag. Gooi gekapte tjillie by, een of meer. Geur die kool met neut, sout en witpeper. Sit skoonwors, dws wors wat net met sout en peper gemaak is, bo-op die kool. Plaas die deksel op en stoom vir 10 minute. Gooi ‘n klont koue botter by en breek ‘n halwe suurlemoen se sap oor die gereg.

Skep in sopbord. Smeer witbrood met botter en eet saam. Vir poeding sit jy perskekonfyt op die brood waarmee jy die bord uitveeg.

Geniet die eenvoudkos.

pa se stilte


Foto Jean Rossouw

Pa
03 Maart 1933 in lewe, tot skemeraand, 21 Mei 2019.

Hoe gelukkig is ek dat ek hier, in Nieu Bethesda, met miljuisende sterre wat die melkweg verlig, kan hoor, dat jy, verlos is van die Alzheimer-siekte, wat jou reeds soveel jare kop-gevangene. Hou.

Ek het opeens, met Tannie Annie se tagtigste verjaarsdagviering, op 03 Januarie van dié jaar 2019, voor jou knieë gaan sit. Jou moeë lyf stil, klein in die rystoel vasgehou, jou kop vooroor gebuig jou werkershande in mekaar gevou, jou sagteblouhemp te groot vir jou kleinmenslyf.

Ek soek jou oë: Hello Pa, dit is ek Niël. Jy, kyk op en in die vlaktes van jou oë het ek ‘n sprankel van lig gesoek. Dit was tog, opeens, of ‘n flikker in jou oë, jou weer, deelmaak van ons hele familie, na soveel jare – te lank. Saam.

Maar, soos in jou laaste jare, was dit ‘n millie-sekonde, stil – vlietend, weg – verby.

Soos Oupa Koot, jou liefde vir die natuur en vir die lewe. Jou hande wat altyd werk soek, jou omgee vir mense, jou stille hardkoppigheid, wat nou ook deel is van my.

Ek verstaan jou nou, dié jaar asof eers, miskien omdat die jare, sy pad ook, met my vat… en ek my eie lewe kaart deur dele van joue.

Ek dink ek verstaan nou jou soeke na liefde, jou stil van struikel-woorde, wat vir my meestal verskonend, onverstaanbaar was. Jou humeur wat ek ge-erf het saam met so baie ander, van jou eienskappe wat ek nou self as lyfdra – onthou.

Dieselde, my oë – jou oë – ons oë – waterblou.

Ek sien gister, die dag wat jy gebore is: 03 Maart 1933. Daar was groot vreugde op die werf, die almalvolk het saam met Oupagrootjie die Jirre ode gegee. Ouma Nellie wat jou in haar wieg-arms bors vat. Sy neurie jou stil. Slaap my kindje, slaap sag, onder rose, vannag. Eers die armpies om my nek en dan warmpies toegedek. Môre vroeg as God wil word my kindjie gewek. Môre vroeg as God wil word my kindjie gewek. Slaap my kindjie, slaap sag, onder engele se wag. Hulle toon jou in droom kindjie, Jesus se boom. Slaap nou soet, hulle wys jou, ‘n droom paradys. Slaap nou soet, hulle wys jou, ‘n droom paradys.

Oupa Koot se trots om sy eers geborne seun, die blouberge van Dassieshoek te wys: die vensterbank, die wit suikerkanne wat hemelblom, die nerinas wat dieppienk in die kloof waterval, die tortels wat in die akkerbome koer-koer roep, die stofpad voor die huis verby, die dahlias in volle blom, Ou Miena of wat was haar naam?, wat stil jou oë kyk terwyl sy jou styf vashou, jou reuk van baba neusvat, terwyl sy jou voorkop soen-streel.


Jy dié oudste broer van jou familie, was baie misverstaan en toegereken met oordeel, terwyl jy net erkenning en liefde op jou pad, sou aanhou lewenssoek.

Ek onthou eenmiddag in die Strand. Ek het jou gevra om saam met my voet te loop, al langs die see in die rigting van Gordonsbaai, en hoe ek my woorde kaal, rou, oopgemaak het teenoor jou, verstaanwoorde, vir die pad wat die lewe jou laat stap het en jou gemaak het wie jy is.

Jy was so ongelooflik dankbaar, dat ek dié middag, jou waarheid kon ligsien.

Ek dink nie, jou lewe was maklik nie.

Jy het altyd gewerk, jou seuns se lewenstyd verloor en dié verlore tyd, te laat, in ons probeer, opsoek. Jou kleinkinders se grootwordjare, skaam gemis.

Ek onthou jou altyd woorde: Ek is so trots op jou Ouboet. So was jy, op al drie jou bulletjies.

Jou bloed.

Omdat jy in my stap, jou seuns se stap, jou eie stap, herken het.

Jy is nou vry, uiteindelik. Uit die gevangenis van jou kop, se maal en maal van rondomtalie, maal en maal – woorde, vrae, sinmaak, stilte, krete, leë woord stil-gille. Ek onthou in jou laaste jare, hoe jou oë altyd gereen het as jy my sien, dit was asof jy ‘n leeftyd se trane in jou laaste jare versamel het en juis die trane jou skoongewas het.

Ek is bly dat ek jou vanaand, in dié nag van sterre, kan groet en opreg kan sê:

Ek verstaan jou nou.
Ek is jammer.
Ek is lief vir jou.

Ek groet jou met die woorde van Oom Driek op 03 Januarie 2019: Niël, jy was amper twee jaar oud toe ek jou Pa vra of jy saam met my, Robertson toe kan ry. Jou pa het na my gekyk en gesê. Jy kan, Driek, maar kyk mooi na hom, want hy is kosbaar. Jou seuns – jou trots, jou nalatenskap.

Nag Pa, ek plant ‘n boom vir jou, moreoggend. Dié nag van 21 Mei gaan koud wees, die eerste winterryp, gaan die tuin, in stilte, wit – kombers.

En by jou boom se voete sal ek skryf:

Jacobus Daniel Stemmet 1933-2019

Ek verf woorde


In nag as stilte jou woorde praat

Luister jy jou eie stem.

Asof jy tweeling

is

In elkeen van ons bly jou eie en wie jy beeld : buite.

Op jou pad van ouer, groei jy nader aan jou eie beeld. Word jy een. Die lig van waarheid is enig. Dit is om jou. Dit is in jou. Dit is jou.

Die maan lig bo vanaand. Ek kyk op. Ek sien myself. Ek is myself.

Om jou eie waarheid te ken is die grootste geskenk wat jy jouself kan gee.

Want dié pad is jouse pad, jouse eie tree, jou leefkaart van: eie ek.

Om vir jouself Liev te wees, soos jy is en jouself te aanvaar soos jy is, is waarom jy gebore is. Dit is die sleutel tot jy.

Gee jouself eer – gee jouself tyd – gee jouself lig.

Ek verf woorde om jou.

Kyk jou tree maak stap.

Kyk jy word lig

Jy is lig.

En dink : Hoe ongelooflik jou geskenk van lewe is.

En dink : Hoe ongelooflik dankbaar jy vir jou lewe is.

Ek verf woorde in my eie kleur

Sondag botterbroodjies


Ek onthou sondag sinoniem met scones, aarbeikonfyt, plaasbotter en geklopte room.

In my tyd van grootword, het jy gepraat van scones, nie botterbroodjies nie. Die scones was somtyds erg droog en ons kinders was nie baie opgewonde oor die droë broodjies nie. Ek onthou hoe ons dit graag in ons teebekers gedruk het en dan die nat krummels, die souterige botter, die loopkaas en natuurlik die soet aarbeikonfyt mond gevat het.

In my grootword jare het ons graag by die Mount Nelson gaan ‘high tea’ en daar was die scones kleiner en lekkerder.

Ek onthou die reuse scones wat jy bo-op Tafelberg in die klip restaurant gaan eet het. Veral in die winter was die tafel in die ‘bay window’ baie gesog en soos by die Stasie restaurant duskant die Parade het hul tee bedien uit swaar ‘railway’ silwer teepotte.

Bo was die ghrênd plekke, so ook Garlicks waar ons op ons stadbesoek die buffet geniet het en natuurlik namiddag ‘scones’ en Earl Grey tee.

Ek het altyd ‘n lekker botterbroodjie resep gesoek en so met tyd het ek dié volgende resep geskep wat sag en heerlik is. Opdag het ek vir Leatitia Prinsloo van die ICA gesê dat ek ‘n beter resep het as wat die skool die kinders leer. Sy het myne gemaak en gesê dis lekker, maar sy sal dit ‘n muffin noem.

Soos oupa Koot sou sê. Nieteensyde hier volg my resep, en ja, jy bak die broodjies in muffinpanne. Proe en laat weet wat jy dink.

Niël se sondag scones

375 ml koekmeel

12.5 ml bakpoeier

1 ml sout

knippie neutmuskaat en ‘n knippie witpeper

3 eiers

125ml room

125ml karringmelk

Sif die droë bestanddele 3 keer saam.

Klots die res baie goed saam tot dit lig en romerig is.

Sny dié eierroom stadig en liggies in die droë bestanddele in met 2 staalmesse.

Skep die deeg in gesmeerde muffinpanne. Maak net halfpad vol. Bak teen 200 C vir 15min. Verf met gesmelte botter as jy dit uit die oond haal. 6 porsies.

Maak sommer baie, vries en haal uit vir die res van die jaar se sondagtees. En roep dit scones, omdat dit eens op tyd was, hoe ons dit geroep het. Ek dink nou hoe lekker jou kombuis moet ruik met die bakreuk wat oral om jou jouself vashou.

Padkos vir my oupa


Uit my 2de boek agter+blad



My Oupa se Audi se registrasienommer was CCD 66. Die kar was wit en het leersitplekke gehad, as ek reg onthou was die rooi en swart. Die stuurwiel was met ligbruin leer oorgetrek met sulke gevlegte leer-rieme wat die stuurwiel styf vashou.

Oupa se kar was outomatic, en onse almalkinders, het geleer bestuur in Oupa se mouter. Ek dink ek was ses toe ek die eerste keer Oupa se kar gedryf het. Oupa het my opgetel en op sy skoot het ek gesit, my blou oë kon skaars bo-oor die swart dash board die grondpad raaksien. Dan sit Oupa die kar in gear en dan ry ons af in die plaaspad. Ek dryf die stuurwiel. Oupa sê : “Hou jou oë op die pad Niël” dan trap Oupa stadig die petrol, die ruit aan Oupa se kant is oopgedraai en ek waai vir die volk wat landstaan met my regterhandjie.

Nou met tyd het ek groot geword en deur my skoolloopbaan het ons baie rond getrek in ander dorpe gaan bly. Eers die Paarl, toe Hartswater en daarna Upington. En oralster het Oupa en Ouma kom kuier met CCD 66.

Oupa was lief vir rondry en ek dink Ouma ook. Voor Oupa die mouter start moes Ouma eers padkos maak. Dan kom Miena nog vroeër as gewoonlik in om vir Ouma te help met die mandjiekos. Ouma maak frikkadelle, Miena kook eiers, hulle sny boerbrood, smeer plaasbotter op en dan sny Miena skywe tuintamaties en uie op die brood. Ouma pak van die somer se droëperskes in, ook van die winter se biltong. Appelkoos- en perskekonfyt, beskuit, boerseep en kleinkoekies. Die gellingkan word vol reentwater gemaak en Miena maak twee flesse moerkoffie waarin sy plaasmelk en winkelsuiker gooi.

Saam met die proviand pak Oupa sy geskenke van die plaas: pekanneute, amandels, gedroogte appelkosies, gedroogte korente, gedroogte perskerolle, sy eie wyn, KWV se brandewyn en ‘n groot bos bergproteas vir my Ma en natuurlik ‘n blik met Quality Street se almalkleure winkellekkers vir onse kinders.

As die son lig agter die Langeberg, duskant die vensterbank oor die kim, start Oupa die kar en dan klim hy en Ouma in die kar. Ouma het ‘n gehekelde tjalie om haar skouers vir die naglug. Oupa sit die draadloos aan om die 6 uur nuus te luister. So ry hy en Ouma in stilte, die telefoonpale knik verby die vensters. Oupa wys vir Ouma die valk wat deur die lug klief. Elke uur hou Oupa stil vir ‘n mondjie koffie wat hy uit die koppie se piering drink met sulke slurpgeluide. Ouma eet ‘n broodjie, met haar sakdoek met die pienk blommetjies op haar skoot oopgestryk om die krummels te vang.

Soms hou Oupa stil as hy ‘n veld met blomme sien, dan loop en kyk hy met sy arms agter sy rug, die veld voor sy voete, in die rigting van die son wat die veld seen. Hy luister na die voeltjies se tjirp soos hul vlieg van bossie tot boom. Hy kyk hoe die miere nes maak, en roep vir Ouma om te kom kyk. Hy vertel vir haar van Eugene Marais se boek “Die siel van die mier”. Dan pluk hy vir Ouma ‘n klein bossie veldblomme. Ouma neem dit neus, kyk Oupa oë, glimlag sag en raak Oupa se hand. Hy maak vir Ouma die deur oop en hulle ry verder.

Later hou hulle stil onder ‘n koelteboom en sit by die sementbankies en tafeltjie met die sagtegroen rante. Ouma gooi ‘n tafeldoek oor die tafel en pak dan die padkos uit uit die geweefte mandjie uit. Oupa kyk in Ouma se waterblou oë en dan seg hy: ”Maak toe die oë”.

Alle oë wag op U, o Here, en U gee aan hulle almal spyse op die regte tyd.
U voed uit u milde hand en vervul alles wat op aarde leef met u ryke seën.


Hy en Ouma eet Miena se padkos. Die motors jaag verby, Oupa kyk die mouters aan, skud net sy kop en eet verder.

Ouma vra of Oupa genoeg gehad het. Oupa sê dankie en dan stap hulle kar toe. Oupa trek sy hoed met die tarentaalveertjie oor sy oë en dan dut hy eers sy middagslaap.

Later. Oupa start die kar en dan trek hy stadig weg…

So ry die twee ou mense in die mouter van dorp tot dorp. Die radio is aan, hulle luister die nuus al om die uur, en net na twee luister Ouma haar Springbokradio-stories en saam luister hulle na Jan en Esmé se “So maak mens” program.

As Oupa so ry en die radio se stasies gaan dood, dan vertel hy vir Ouma stories. Hy vertel haar van sy planne met die boerdery op Dassieshoek, van wat hy dink van die land van ons se politiek en dat hy Ouma eendag oorsee gaan vat. Ouma sit stil en luister. Soms vat sy ‘n pepperment mond.

Oupa sê die wereld het lanklaas reent gehad. Hy en Ouma kyk hoe die lee plaasdamme en die windpompe verby vliet.

Soms vat Ouma haar hand en vou dit soos ‘n klein duifie in Oupa se linkerhand in… Dan kyk Oupa haar oë en sy weet hy is liev vir haar.

As Oupa en Ouma groet na die kuier by ons, gaan staan ek in die straat en kyk hou die wit Audi met die CCD 66 nommerplate kleiner word. Hoe die oranje flikkers aangaan en as die mouter onder in die straat om die draai gaan, swem my oë soos ‘n padkaart, in die eerste winter reent.

Dear Niel

Thank you for your beautiful story…(Home mag April 2013)
Oupa and Ouma would be so proud of you, not just for getting your story published, but more for the sensitivity and spirit of love it was written in!
It was really touching, Thanks!

Kind Regards
Judy van Zyl

Ai, Niel Stemmet…
Hoe swem myse oë nou ook soos padkaarte van die onthou! Baie dankie dat vir so baie die onthou sigbaar maak. Ek sien my ma en pa in jou storie en ons kinders op die agtersitplek. En my oupa en ouma Kimberley in hul grys CC Chev met die groot wit vlerke… En ouma wat regs agter sit met die terugtog, want sy skrik vir die afgrond van Du Toitskloofpas!

My eie kinders is al vandag getroud en ek vertel hul van daardie dae. Ek’t ons familieplaas onlangs weer na 46jr besoek. Vir 46 jaar al woon niemand meer daar nie. Die huis staan nog, en die mure sug van verlange. Die grys Chev was nie meer sigbaar nie…) Gaan jy vir ons skryf van winterreën oor Robertson se appelkoosbome…? Mooi loop.

En hou aan en aan en aan met skryf.
Groete Thersia Kruger

Niël se geroosterde groentesop


Rooster enige groente wat jy het. In die geval was daar patats, aartappels, botterskorsies, gemmer, uie en knoffel. Rooster teen 180C tot die al die groente gaar is. Skep die pampoen uit die skil, haal die res van die groente se buitenste skille en doppe af en druk alles saam fyn in ‘n kastrol waarin jy botter gooi. Roer die groente deur die botter en maak deurwarm. Geur met sout, witpeper en neut. Voeg melk by, of as jy kokosneutroom het, dan is die sop eers lekker. Gooi genoeg melk by tot jy ‘n soptekstuur het. Geur weer. Maak deurwarm. Roer ‘n paar hande sterk kaas deur die sop.

Die sop is werklik heerlik. Ek maak dit soms met kerrie, maar vind dat die geroosterde groente soveel geur het, dat as jy kerrie bysit jy die natuurlike geur fonfaai.

Geniet die lekkerte. Veral as jy voor die kaggel sit, opgekrul onder die komberse met lekker dik wintersokkies aan.

Patat met lemoenbotter


Winter is patat tyd. Ek eet dit graag met sout en witpeper, of met lemoenbotter.

Ek het al die storie vertel, maar omdat so snaaks en kosbaar is moet ek hom weer woord.

In die tyd van die bosbewoners in die Knysnabos was kos baie skaars. Patat was die stapelvoetsel.

Nou die mense het die patats wurgpatats geroep, en as jy soos ek versot is op patats, sal jy wis dat jy soms sukkel om gekookte heelpatat af te sluk.

Nou die oom van die huis of te wel die oudste man het beesvet om ‘n riem geweef. Die vetriem is dan keelgevat en afgesluk met die res van die riem wat by die mond uithang. Die patat word dan mondgevat en gesluk. Indieselde beweging word die vetriem dan uit die keel opgetrek na buite, en so kon die oom die patats afsluk.

As die oom klaar geëet het is die riem om gestuur en het elkeen van die familie beurt gekry om patat te sluk.

Wys jou nou net: ons het baie om voor dankbaar te wees vandag.

Was die patats goed af en kook in ‘n pot met water onder in die pot tot die patat sag is. Haal die patat uit die pot en sny middel. Spoel die pot uit. Gooi botter en vars lemoensap in die pot. Smelt en gooi oor die patat. Geur met kaneel, sout en neut. Sprinkel lemoenskil raffels bo-oor.

Geniet en dink aan die bosbewoners.

Soet wortels en raap


Raap is nou beskikbaar in die winkels. Koop saam met wortels en maak die erfenisgereg.

Ek is versot op raap en wanneer ek dit grond trek of in die groentewinkel kry maak ek die gereg soos Ai Eva my geleer het.

Dit is heerlik by skaapvleis en menigte skooldag was dit deel van die bordkos wat in die lou-oond wag. Dit is ook heerlik saam met frikkadelle en Ai Eva het altyd rys saamgesit op die bord.

In die tyd van Inperking stof ek al my kinderkos herinneringe af, en vier my voorgeslagte se eenvoudkos.

Skraap die wortels en raap. Sny in skywe. Smelt botter in ‘n pot. Sit die groente pot en braai stadig tot neffens van sag. Geur met neut, kaneel, sout en witpeper. Gooi suiker by en draai die hitte op om so ‘n bruinkorsie op die groente te kry.

Lekker eet, gedenk die oumense en die grootmaak-vroue.

Groete uit Nieu Bethesda.

Krummelpap met kool


Ek ken nie dié gereg nie, maar nou dat ek weet van kool op pap, sal ek dit altyd maak.

Ek soek gereeld vir nuwe idees met groente wat jy elke dag in die winkel kan kry. Veral as dit bekostigbaar is.

Kool was nog altyd een van my gunsteling groentes en ek vrek oor mieliepap.

Onlangs gesels ek met Mfundi kos. Ek liev dié eenvoud van haar kos. Vertel sy my krummelpap en gebraaide kool is gereelde aandkos by haarse mense.

Jy eet hom met die vingers. Maak die krummelpap in balletjies met jou vingers, vat van die kool en sit op die pap. Nou vat jy hom mond. Heerlik.

Maak jou krummelpap. Braai uie en knoffel saggies in botter of margarien. Voeg die gesnyde kool by. Geur met sout en witpeper. Jy kan ook ‘n biefstokblokkie bysit as jy die geur van vleis wil proe. Jy braai die kool tot hy bruin is, want in die bruin lê die geur.

In die tyd van eenvoudkos is dit so lekker om oor die kleurgrense heen resepte uit te ruil. Die inperking het sy voordele. Vir my leer dit om eenvoudig te lewe, om eenvoudkos te maak wat soveel beter smaak as die kos wat gefomfaai word met duur bestanddele. En om dankbaar te wees dat ek sulke lekker kos op tafel kan hê.

Groete uit Nieu Bethesda.

Niël se lekkerste beskuit


Ek het die resep al ‘n paar keer opgeneem in boeke. Dit is net ongelooflik lekker en saam met smiddagkoffie is dit ‘n wenner.

Ek maak elke oggend ‘n beker koffie en dan doop ek die beskuit. Die koffiebeskuit is die lekkerste brekfis, veral as jy die beskuit met ‘n teelepel uit die beker eet.

Beskuit was nog altyd deel van die erfeniskos-kultuur. Van die tyd dat die transportryers te perd uit die Kaap binneland toe is op hul ontdekkingtogte, met hul knapsakke gevul met beskuit, deur die jare heen, tot in nou wat ons die kos van ons voorvaders weer herontdek.

Hier is die resep vir ‘n moderne beskuit.

1kg bruismeel

4e bakpoeier

2t sout

1/4t witpeper

1t kaneel

1e anys

250g botter- saggemaak

600g geelsuiker

200g sonneblomsaad

200g pampoensaad

200g semels

2k karringmelk of amazi

1/2k sonneblomolie

2 groot eiers geklits

180C oond. Meng meel, bakpoeier en speserye saam met die botter tot dit lyk soos mieliemeel. Voeg die suiker, sade, semels by. Meng die karringmelk, olie en eiers saam. Roer die eiermengsel in die meelmengsel. Gooi die deeg in gesmeerde bakpanne. Bak vir 1 uur. Keer uit op droograk, wag 15min, sny in vingers. Droog teen 100C.

Die beskuit is regtig besonders, dubbel die resep.

Groete uit Nieu Bethesda.

Om wasgoed te was


Hoe langer die inperking, hoe meer stof ek my gedagtes af na dit wat eens edel was.

Toe ek net begin werk het, in die tagtigs was geld ook so skraps soos nou.

Ek het by die Spur gewerk en my salaris was R200 per maand. My huurhuis in die onderdorp, neffens die treinspoor in Beaconsfield, Kimberley; was deel van ‘n skakelhuis, waar my buurman elke aand deur sy venster op die malvas buite in die karige voortuin gefluit het.

My bed was ‘n ‘pine’ dubbelbed met ‘n enkelbed matras. In my eetkamer het vier ‘tjips’ 20l lee oliekanne die ‘pine’ blad tafel gehou. Die stoele was 2 groot kussings wat op die plankvloer geslaap het.

Ek het nie geld gehad om die krag aan te sit nie, ek is twee winters deur met die Cadac gasstofie en die Hart kastrol met die gebrande handvatsels. In die pot het ek kos gemaak, teewater gekook en ook warmwater om soos ‘n Fransman te bad. So bo om die gesig, deur die kieliebakke, tussen die lieste deur af na die voete met die wit koekie Lux seep met Claudia Cardinale se gesig op die verpakking. Daardie tyd was dié seep dié ghrênd seep.

Die plankvloere het ek elke aand na werk met skuurdraad en Sunlightseep gewas tot al die vloere gryswit was.

Hoekom dié storie? Omdat ons vandag weer in soveel eenvoud lewe en als self skoonmaak.

Ek onthou maandag was my afdag en dan het ek my klere en beddegoed in die bad gegooi saam met ‘n hand Omo en dan het ek met my voete die wasgoed getrapwas.

Toe die wasmasjien onlangs in Bethesda breek, was dit weer tyd vir voetwas-was-goed. Gelukkig was daar die keer warmwater by die kouwater. En weet jy toe ek die wasgoed so was al met my voete se dans, gaan my gedagtes weer terug na toe ek twintig was.

Ek wat dansend op die tapes van Springbok Radio se treffersparade van David Gresham wasgoed rieldans. En in my kop die groot geluk van die dae van eenvoud soos in nou en dat ek in dié dae soos in nou op mens, die gelukkigste was en is.

Ek stuur groete van die wasdag op Bethesda. Die lewe is mooi, veral as jou voete dans en jy die wasgoed sonhang en later afhaal met die reuk van Sunlight seep en son in jou neus.

Wildswors op wortels en aartappels


Toe ek kind was het ma en ai Eva gereeld aartappel, uie en wortels saam gekook.

Die lekkerte is met sout en witpeper gegeur en natuurlik ‘n paar raafsels neutmuskaat. Op einde roer jy ook ‘n groot lepel botter deur.

In Bethesda is daar vroue wat heerlike wildswors maak, wat natuurlik genoeg blokkies vet moet hê om lekker in die pan te kan bak.

Wildswors op wortel en aartappel

Sny wortels, aartappels en uie in blokkies. Plaas in kastrol met water om die groente so met ‘n derde van die pot te dek. Kook die groente tot sag. Gooi die ekstra water af, geur met sout, witpeper, neut en botter. Plaas die wildswors bo-op die groente. Sit die kastrol terug op die vuur en prut stadig tot die wors gaar is. Breek die wors in stukkies en skep bord.

Ek vra vir ‘n tannie wat ek moet doen om die verlepte wortels styf te kry, sodat ek die wortels beter kan skraap. Ek gooi niks weg vandag nie, elke stukkie groente word gebruik.

Die tannie sê: My kind gooi die wortels in koue water dan sal hulle gou-gou styf raak. Sy kyk die oom aan en sê miskien moet jy ‘n bak koue water vanaand langs jou op die bedkassie sit ou man.

Lag ek my amper af van die stoel af.

Groete. Skryf gerus saam op my blog.

Karoo lambribbetjie


Kyk, jy sal ver gaan soek om lekkerder te eet as ‘n oondgebakte lamribbetjie.

Ek het die ribbetjie goed met sout ingevryf en toe vir 2 dae oop in die koelkas laat rus. Jy haal die ribbetjie op die derde dag uit en strooi koljander oor en genoeg swartpeper.

Bak in die oond teen 140C tot die ribbetjie maklik uitmekaar breek.

Nou toe ek groot geword het, het ouma Miemie die ribbetjies altoos met tuisgebakte brood geëet, waarop sy altoos plaasbotter gesmeer het. Op die botter genoeg gesnipperde perskekonfyt.

En natuurlik sommer ‘n vadoek hier voor by die hals ingedruk. Dan kry ouma haar sit by die skoongeskropte kombuistafel. Die arms weerskante van die blommekies bord. Voor haar die ribbetjie, haar knipmes, ‘n jammerlappie, die bord met perskebrood en natuurlik ‘n gelling swart moerkoffie om na ete die geil uit die mond te kry en die gal ruskans te gee.

Ek sprinkel vars die suurlemoensap oor. Dit maak die ribbetjie nog lekkerder, die suur so saam met die geil.

Lekker droom van die Karoo en natuurlik ouma Miemie.

winter beesstert


Ek hou van winterkos. Dit moet soos winter proe: lemoen, kaneel, neut, anys, naeltjie en lievde.

Hier in Bethesda het die winter die week kom deurklop. Ek sit in die sitkamer en kyk uit oor die tuin, noord, in rigting van die Kompasberg. Ek wag op die beloofde sneeu.

Die wind het die hele nag verbete aan die hortjies geruk. Die pampoene op die dak, het dak gerol en in die grondstraat voor Klein Geluk, dans die wind van gisteraf balrok, op en af, stof, tiptol-rondte wind af na André en Yolande se Goatshed waar ek die allerlekkerste plaasbotter, -melk, -room en fetakaas koop.

Die kaggel kou bloekomstompies en Noah, die Maine Coon, spin op die skaapvelle wat die banke en stoele winterkleed.

Uit die kombuis kom die geur van beesstert wat wag om geskep te word saam met die edel Afrika-stapel: samp.

Hoe langer ek in die Inperking in Nieu Bethesda bly hoe meer ontdek ek die lekker van samp, lensies, koring, erte, sopmengsel, al die vergete spenskos, wat soveel lekker in hul eenvoud, op sleutel hou.

Om beesstert te kook is baie werk, maar jimmel, dit is die moeite werd. Kry sterte met lekker stukke vet. Maak sommer ekstra, dit vries goed, so ook samp.

In die dae toe ek Le Must Restaurant in Upington gehad het, het ons letterlik daagliks beesstert gekook en al wat ‘n besoeker was het sommer in die kombuis Emily se kooksel kom proe. Menigte nagte as ek laataand voetseer voor die pot staan het ek gulsig die vleis sommer so uit die pot geëet.

Beestert

2kg beesstert

4 uie gekap

4 knoffelhuisies gekap

1 duim gemmer gekap

1t kaneel

1t neut

1t witpeper

½t anys

3 naeltjies

2 blikke kokosneutroom

2k lemoensap

1 groot botterskorsie in stukke gesny

1 pak lensies, afgespoel

gekookte samp

2 lemoene se oranjeskil in dun repies gesny, die sap gooi jy by die beesstert

¼ t neut

Guacomole

Maak 6 avokadopere fyn, geur net sout, witpeper, 1 knoffelhuisie en 1 klein ui fyngekap, en vars suurlemoensap.

Pak die beesstert in ‘n oondbak en bak teen 180°C tot bruin.

Haal die beestert uit die oondbak en gooi die helfte van die vet in ‘n groot potyster pot. Plaas die pot op die stoof en braai stadig, die uie, knoffel, gemmer en speserye saam tot die uie sag is. Sit die beesstert by die uie en gooi die lemoensap by en genoeg water om die beesstert driekwart met water te bedek. Bak in die oond op 140°C. Roer gereeld deur.

Bring die lensies tot kook en prut vir 15min. Gooi die water af.

Wanneer die beesstert neffens van sag is, gooi jy die lensies en die botterskorsie by asook die kokosneutroom. Geur met sout en witpeper.

Roer die lemoenskil deur die samp, geur met sout, witpeper en neut.

Skep die beestert bord saam met die samp. Plaas ‘n lepel guacamole bo-op.

Gaan sit voor die vuur met ‘n jammerlappie voor jou en die bord beesstert op skoot. Vat die lievlos mond en gedenk al die kokke by wie jy geleer het om kos te maak.

Die beesstert is verruklik. Skryf asseblief saam op my BLOG. Maak jou stories deel van mye. Groete van Klein Geluk in die hand van die Sneeuberge.

Toe sondae nog sondae was


Ek voel noudie maandag soos die dood, geen fut in my battery nie. Ek kyk so vir myself en ek dink. Jy weet dit is oor jy nie meer rus nie, jy werk altoos sewe dae van die week, elke dag kom en gaan, inmekaar verstrengel deur selfoon, huisfoon, e-pos, sms, whatsup, bb, facebook, linkden, twitter – “you name it”. Die hele wereld kan jou kontak en ook op sondag is jy 24/7 beskikbaar.

Net daar besluit ek genoeg, van volgende sondag, sal sondag weer ‘n rusdag wees. ‘n Dag vir boekevat met jouself, ‘n dag waarop jy jou siel afstof, jou kop se luike oopmaak en die stilte van eietyd inadem en lank, rustig op jou tong laat lê. ‘n Dag waarop jy alleen op uitnodiging gaste ontvang om jou kosbare tyd deel, ‘n dag wat jy maak wat jy wil maak, omdat dit jou dag van rus is. ‘n Dag wat jy al wat telefoon is afskakel, al wat rekenaar is se mond toedruk. ‘n Greta Garbo dag ! die aktrise het in haar wysheid die woorde uitgesnik : “ I want to be alone !”.

Ek vat my sondagrusdag verder, noudat dié dag weer vir my nuwe betekenis het. 

Ek onthou toe ek kind was en sondae vir my die dag van soveel emosies was. Die heerlike sondagmiddagkos, maar dan ook die gedwonge stilte na die ete. Die agtermiddag uitry plaas toe om koffie te gaan drink en melktert te eet. 

Die geluide van sondae was altyd: tortelduiwe, honde wat ver blaf, die gelui van die kerkklokke soos hulle ons, die sondaars altoos nader roep, die klank van gesange wat deur die vensters van die kerk op die sypaadjies vlerk sleep. Die geluid van aartappels wat in die warm vet bros bak. Die klink van wynglase en die geluid van mes en vurk wat op die borde duet.

Die stilte in klank van ‘n dorp wat slaap, ‘n dorp wat rus.

Ek maak nuwe reels in my lewe. Jy koop dit wat jy nodig in die week, op ‘n sondag sit jy jou voete nie in ‘n mamonsentrum vol negosie en nonsens nie. Jy kook dit wat in die huis is, as jy uit iets uit raak, dan beur jy voort sonder dit, want dit is nie nodig nie.

Jy spandeer die dag sonder elektronika, geen tv – niks. Net jy en jou gesin en dit wat om julle lewe. Jy vat jou voete en julle stap die veld in. Jy ruik die veld wat aan jou klere vasklou, jy kyk op in die blou lig, tel die wolke en soen die son. Jy haal die lug in met ‘n diep teug van gelukkigheid. Jy gaan sit op ‘n klip en voel hoe die son jou rug warm bak. Jy pluk ‘n hand vol veldgras en blomme en dra dit terug na jou huis waar jy dit in jou mooiste blompot op jou tafel sit.

Jy maak ‘n pot tee en luister na die stilte om jou. Jy vryf jou kat tot sy ore van pure lekkerte platlê.

En dan vat jy ‘n lang warm bad in engelse sout, ‘n hand roosmarynblare en ‘n hand bloekomblare. En dan maak jy jou oë toe en droom van jou kinderdae toe sondae nog sondae was en die week maklik was omdat jy op ‘n sondag gerus het.

Jy gaan klim in die bed en slaap ‘n diep sondagmiddagslaap en dan as die son al water trek gaan sit jy buite en voel hoe die aandlug tjalie gooi om jou skouers.

Jy kyk op en sien die aandster blink, jy kyk hoe die sterre een vir een die hemelruim binnekom. Jy luister na die nag se geluide. Jy luister na jou eie hart se klop. Jy luister na die stilte in jou.

En dan klop jy jouself op die skouer en oor jy ‘n nuwe geheim van leef ken.  Sê jy vir jouse self : jy weet ek is nou volkome gelukkig. Die dag was my dag en ek het hom in my eie tyd geniet en so ongelooflik waardeer. Jy sê ook vir jouself : sondag is ‘n sondag, sondag is my rusdag. Elke dag is kosbaar, maar van nou af sal sondae meer spesiaal wees, omdat ek die dag weer vir myself as niksdoendag, geskenk sal gee.

Soos republiseer in Tuis en agter+blad

lam en skorsies


Van ek kan onthou was skorsies my gunsteling groente.

Seker omdat my ma ons gespeen het op skorsies. Toe ek baba was, was geld maar skraps, soos in nou en in plaas van Gerber se Purity het my ma skorsies gekook en my wat baba is daarmee gevoer. Met die verloop van maande in my tree, het sy die skorsies met vleissappies gemeng en so het my voorlievde vir skorsie en vlees ontstaan.

Jy kan sê dat ek weer my babajare gedenk deur die trooskos. En hoe spesiaal is dit om die gedagtes weer kop te vat.

Hier in Bethesda kry ons lam van Herster Steynberg van Ganora, en ek belowe jou die lam wat sy vir ons gee was op leef gelukkig, want sulke lekker vleis kan jy net op tong, pure jimmels roep.

As ek dink aan lamtjops herinner dié aandete vanaand my aan Naomi Friis, wat nou al lank tussen die engele bly. Sy het opaand in Die Groenhuis op Philippolis vir my lamtjops, ook pangebraai, saam met soetwortels en botteraartappels voorgesit.

Ek sal nooit vergeet hoe ek in die voorhuis aan’t tafel gesit het, met die kersblaker neffens my, die glas rooiwyn voor my en sy wat amper soos in bede die bord aankos voor my neersit. Sy was ‘n stilvrou.

Ons het vriende geword deur kos en volgens Jens, haar seun, was ek die enigste ander persoon wat ooit in haar kombuis toegelaat is om te kook. Hoe verlang haar en my saamdae wanneer die kou, soos in nou, ruitklop.

Lamtjops met skorsies

Sny skorsies middeldeur en kook tot gaar. Skep uit hul nessies en geur met sout, witpeper, neut en plaasbotter.

Geur die tjops met sout en witpeper. Maak ‘n pan baie warm, gooi ‘n klont botter daarin en as die botter skuim sit jy die tjoppies pan. Braai vir so 5 minute aan een kant, draai dan om en braai vir nog 3 minute aan die ander kant. Haal die tjops uit die pan, gooi die skorsievlees in die pan en roer die pansappe deur.

Skep op ‘n bord en gedenk die vroue wat my lewe ryk gemaak het.

Groete uit Nieu-Bethesda.

Al die resepte wat ek plaas is eenvoudkos. Skryf gerus saam op my blog, jou stories sal trou met mye.

Hoendersop


Toe ek klein was, het ek gepraat van hoeners, daai ‘d’ kon my tong net nie klank nie.

Van ek kan onthou was oondgebakte hoender Sondagkos. Saam met oondgebakte bros aartappels, blomkool in witsous, groenertjies met botter en natuurlik soetpampoen.

Deesdae is bogenoemde Sondagkos ‘n luukse. Eenvoudkos is die ‘noukos’, omdat geld skraps is en eenvoudkos deel is van van die geskiedenis van erfeniskos. Deur elke depressie het die volk meer in eenvoud geleef en geëet.

En as terugdink aan die twee maande hier in Bethesda is dit wat my bybly, die eenvoudige aandetes wat ek hier by die tafel saam met die kers wat lig in die koperblaker, geniet.

Oordaat is vir my vandag ‘n sonde. Elke Instagram plasing wat ek sien waarin oordaat afgeneem en amper mee gespog word, maak my skaam.

Daar is soveel mense oor die wereld heen wat vandag met letterlik niks dag tot dag deurgaan, sonder hoop vir waar hulle volgende dag se kos vandaan gaan kom.

Ek het die week hoendersop gemaak, of te wel kragsop. Ouma Nellie en Ouma Miemie het wanner die kinders verkoue kry die kragsop gemaak om die verkoue hok te slaan. Dit was nog altyd vir my ‘n gunsteling.

Ek vries die sop en maak warm wanner die koue buite deur klop.

Hoendersop

1 hoender of ‘n pak hoenderstukke

3l water

2 uie gekap

2 knoffelhuisies gekap

2 lourierblare

1 naeltjie

1e Worcestersous

sout en witpeper na smaak

Enige groente wat jy het. Ek het wortels gebruik en ‘n bietjie bevrore groente.

Plaas al die bestanddele behalwe die groente in ‘n ysterpot. Bring die hoenderwater tot kook, draai die plaat af en prut vir sowat 1 ½ ure. Gooi die groente by en prut stadig tot die groente gaar is. Proe en geur met sout en witpeper.

Haal die hoender uit die aftreksel, ontbeen en breek die vleis in repies.

Eet saam met snye plaasbrood waarop jy botter of margarien smeer. Ek onthou: My pa het altyd brood saam met sy kos geëet, ons ook toe ons kinders was en dit was altyd die lekkerste om die smeerbrood in die sop te breek en mond te vat.

Groete uit Nieu Bethesda

Nota: Al my resepte is eenvoudkos, skryf gerus saam op my blog. Jou stories sal baie waardeer word.

Tjillie- en gemmerkonserf


Ek vrek oor tjillies.

Miskien omdat die vruggies wat aan die bossies sit in rooi, pers, groen, geel en oranje my vir een of ander rede, aan ‘n krismisboom laat dink.

Hier in Bethesda groei tjillies asof hul betaal word en kry ek gereeld handevol geskenk van Carla en André wat my lievde vir die spesiale vruggies ken. Ons kry die Cayenne, Bird’s eye, Habernero – my gunsteling, Jalapeño en Seranno hier aan’t huise. Hoe kleiner die tjillie, hoe sterker skop hy.

Tjillies is baie gesond en het vele voordele, onder andere is dit propvol vitamien C en uitstekend as ‘n gemoedsopkikker, daarom is dit belangrik om in die Inperkingstyd elke dag daarvan eet.

Vernon, die man wat vir my mampoer skenk, sit gereeld ‘n paar tjillies in die mampoer, die tjillie trek deur die mampoer en is heerlik. Jy kan jou eie tjillie vodka of gin maak deur een of twee van die vruggies in jou bottels te sit en vir ‘n wyle in die kas te laat staan om deur te trek.

Die wondervruggies kom oorspronklik van Bolivia en Paraguay en word al vir meer as 9000 jaar gebruik in die voorbereiding van kos. Pluk die tjillies as hul dieprooi is van kleur en hou in die groenterak, of droog vir wanneer jy nodig of verwerk en bottel vir wanneer die tjillielus jou vat.

Ek liev die smaak van gemmer saam met tjillie. Die konserf is op sy heel beste saam met ‘n sterk kaas, of bak ‘n heel brie, as jy dit kan bekostig, in die oond en gooi van die tjilliestroop oor as jy dit uit die oond haal of maak braaibroodjies en smeer van die stroop bo-oor jou kaas, tamatie en uie – lievlik!

Tjillie en gemmerkonserf

500g tjillies in stukkies gekap, saad en al as jy dit sterk wil hê

150g vars gemmer in stukkies gekap

250ml wit druifasyn

250g witsuiker

2t sout

1t witpeper

½t kaneel

½t steranys of gewone anys, fyn gestamp

Gooi die gekapte gemmer en tjillies in gesteriliseerde glasbottels. Bring die res van die bestanddele tot kookpunt en kook vir 5min. Gooi die kokende stroop oor die tjillies. Bottel en plaas in jou koelkas.

Groete uit Nieu-Bethesda

Onthou al my resepte is vir eenvoudkos. Skryf gerus saam op my blog, dis altyd lekker om van lesers te hoor.

appelbier


In die tyd van Inperking waar ‘n bier so skaars is soos hoendertande, moet ‘n man sy eie verversings maak en om heerlike vrank Granny Smith appels te werk tot jy bier kry is plein: kleinkind-lekker

Die bier staan en gis al vir meer as ‘n week en is heerlik. Ek gooi ‘n duim gemmer in en ook naeltjies en kaneel. Dit gee die bier ‘n heerlike smaak, amper asof jy appeltert drink.

Ek het 20 liter gemaak, en vandag weer begin met 40 liter.

Ek dink daaraan om ‘n shebeen oop te maak. Dalk is daar die geldjie in vir die pad vorentoe. 😊

Dis ongelooflik hoe ons in die tye, eie kop gebruik om dit wat ons na hunker self op jou eie manier, eie te maak.

Maak die bier, wees geduldig, hy soek hitte terwyl hy gis, so laat staan die kan in die son, met die deksel ietwat los.

Plaas in die koelkas. Geniet koud in die pragtige herfsdae.

Appelbier

20l water

20 swart tee sakkies, jy kan Rooibos of Earl Grey ook gebruik

20 Granny Smith appels

2kg bruinsuiker

2 naeltjies

2 stukke pypkaneel

1 duim gemmer gekneus

20g brouersgis

Plastiek emmer of ‘n waterkan

Kook die water saam met die suiker. 

Voeg die teesakkies by en laat trek. 

Laat die tee koud word .

Sny die appels in stukke en gooi in die tee saam met die speserye.

Plaas in jou houer. Draai deksel neffens van vas.

Roer elke dag deur en laat staan tot die borrels verdwyn, mimimum 7 dae

Syg deur. Gooi in bottels en pak in jou yskas.

Groete uit Nieu Bethesda

en

lekker bier maak 😊

rose vir ma


Van ek myself groot noem.

Word mens ooit groot?

Dit voel vir my hoe ouer ek word, hoe meer stap ek nader na dié kind in my, wat ek dog, ek lankstoots, alleen gelos, optyd – vergeet het.

Van ek myself groot noem, het ek ‘n hekel in enige verbruiker-geskepte-vereringsdae, soos vaders-, valentyns- en moedersdae.

Ek voel nog altyd dat dié dae elke dag gevier moet word, omdat lievde in nou-se-tyd en vir dié lievmense om ons, ons tog elke dag mens roep.

Met nou, dat die wereld heelomkeer verander en dit wat geld kon koop; daardie ewige koop om die groot vakuum van alleen binne ons te vul, deur- uit-loop.

En lievde, om te bak, om in die tuin te werk, om in jou eietyd stil te sit en met jouself te praat, om te kyk hoe die son sak en die maan die nag binnekom, om die sterre in die jimmel bo jou te probeer tel.

Om in gesprek werklik na mekaar te luister, elke woord hoor te gee, die woorde te proe en tyd te maak om dié mense om jou, se woordspel te verstaan.

Om in dié nou-oomblik van jou tyd te leef.

Dit is waaroor leef gaan, in die Imperking van nou.

En ek jubel om tyd te hê vir myself, na ‘n leeftyd van werk en in diens staan vir gaste en kliente.

Ek onthou my oumas, my tantes, my ma, almal wat leef of probeer leef om hul kinders ‘n beter lewe te gee, as wat hul self kon tree. Ma’s altyd besig om kinders te kloek, te voed, te kyk, te skerm, omdat hulle as ma, dié kind, kind roep.

Altyd in diens vir die kind wat uit hul liggaam gebaar is, altyd.

Ek onthou die sin uit Bridges of Madison County deur Robert James Waller:

“When a woman makes the choice to marry, to have children, in one way her life begins but in another way it stops. You build a life of details. You become a mother, a wife and you stop and stay steady so that your children can move. And when they leave they take your life of details with them. And then you’re expected to move again only you don’t remember what moves you because no one has asked in so long. Not even yourself.” 

Amen.

Ek dink altyd met die vier van verjaarsdae hoe jy geluk gewens word op jou breek van nuwe jaar. Tog voel ek altyd, jy die ma, moet die gelukswense dra, omdat jy my gekind het.

Ek deel een van die allermooiste gedigte in Afrikaans wat alles opsom wat ek nie kan vandag kan woord nie.

Ma

Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fênsie leesekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig –

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe

ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.”

Antje Krog

Dié kind onthou rooi granate


Dié kind onthou rooi  granate

Ek onthou granate in kind, as juwele. Vir my was elke pit ‘n edelsteen wat soos robyne rooi glim.

Ek dink dat die wysemanne hul geskenke as ‘n trommel granaatpitte geoffer het, saam met ‘n trommel soet dadels en in die laaste trommel: pekanneute. 

As kind kon ek altyd my verbeelding teuels gee, en in elke droom kon ek stories waarheid, in my eige mond se taal.

Ek onthou granate in die ou tuine as ‘n pronkstruik. Omtrent elke werf het sy eie granaatbos gehad, en in die voorwinter het hul swaar hand gedra wat jy volhand kon pluk.

As die granaat oopbars

aan die einde van die somer

Wil ek sterf

Om in die soom van die lente 

Weer ‘n jongkind te wees.

So skryf ek toe ek sestien was, en vandag besef ek dat wanner ons eendag die laaste afdraai vat op onse pad, ons sal droom, en watter droom is beter as om jou kindwees te gedy. 

Ek onthou ‘n kiekie met ‘n witraam, van my toe ek omtrent vyf was, waar ek in ‘n granaatrooi broek en hemp kaalvoet staan met my duim in my mond, buite ons wit gekalkte huisie met die twee slaapkamers en die voorhuis-kombuis waar die koolstoof warm maak, sy rook altyd ‘n pluim wat teen die blou jimmel, wit teken.

Daar was bloekoms agter die huis, ek kon vir ure met die boombas ‘karrekies’ en plaas-plaas speel. Die reuk van die bloekomblare het ek altyd neus gevat. Dis ‘n reuk wat ek tot vandag, my kindwees, toe-eien. 

Ek onthou die gronddam voor die huis en die eende wat in sirkels watertrap. Oor die dam se sig, die vallei van Dassieshoek waar ek, my ma Elise, my pa Kowie en my kleinboet Herman bly, saam met my Oom Driek, sy vrou Henriette en my gelievde oupa Koot en my vashou-ouma Nellie. 

Daar was ‘n plaasskool waar juffrou Ella die vallei se kinders met kryte op leie les gee, terwyl die tortels buite in die akkerbome koer-koer speel, en ek oopmond sit en droom.

Veral nou, waar soveel mense in inperking leef, is om te ontsnap na jou kind-se-tyd, ‘n ontvlugting wat jou vlerke gee.

Bo die huisie, die wasgoedlyn wat blou voorskooi en menigte luiers sonmaak. Agter die waslyn die waenhuis van modderstene gebou en verder op die berg met sy miljuisende proteas. Ek onthou die bergrosies wat kom onderbo hang, granaatpitrooi is hul wange en sag witgrys hul monde. Daar was steenbokkies wat soms grootoog kom kuier het en in die winter spinnekopwebbe geweef tussen takkies, wat vroemore diamante dra.

Hier in Bethesda, groei granate geil. En word daar kwistig agter die soetrooi van die pitte gekou.

Ek stuur vir jou ‘n bak granate, neem een tussen jou hande en ruik die son en stof, vat die pitte mond en word weer kind, want om ‘n kind in jou te laat leef is die grootste geskenk wat jy jouse-self kan gee.

Veral nou.

Lievde uit Bethesda.

Bakeiers op spinasie


Elke dag kyk ek hoe ek met dit wat ek in die huis het, eenvoudkos kan maak. Verby is die dae waar jy winkel toe gaan om alles wat jy dink, jy nodig, te koop.

Jy maak kos met dit wat ek het. 

In dié tyd van inperking leer ek weer, dat eenvoud in kos die beste en ook die lekkerste is. Oordaat is vir my ‘n sonde, terwyl daar soveel mense is wat soveel minder as ek het.

Spinasie

Braai uie en knoffel sag in ‘n kastrol. Gooi jou spinasie by en geur met neut, sout en witpeper. Roer plaasroom deur saam met feta as jy het.

Eiers

Sit ‘n stuk plaasbotter in die pan, wag tot die botter skuim maak. Breek die eiers in die pan. Plaas die deksel op so halfpad deur die bak en bak eiers tot die wit gaar is.

Skep die spinasie, met die bakeiers bo-op.

Gaan sit buite in die winterson. Geniet jou eie stilte en die feesmaal.

Swartkoffie is heerlik na die tyd en natuurlik om soos my pa te gaan skuinlê vir so ‘n halfuur, voor ek weer die tuin invaar en die groente versorg.

Liewe leser let wel dat ek baie eenvoudige resepte plaas, omdat baie mense baie min het in die spens. Skryf asseblief saam in kommentaar, op dié blog.

pampoen se kind


Van klein-se-tyd was pampoen altyd my gunsteling.

Ek het Ai Eva aan haar blou voorskooi getrek en met smeekogies gevra vir papoen, die m het my kindermond ontbreek. Dan het Ai Eva my kop gevryf en gesê ek maak hom vir jou klein Niël met lekker kaneelsuiker.

Jy kan nie sag gebakte frikkadelle bedien sonder om rys en pampoen by te sit nie, die trio is in een woord: jimmels; en dis hoe Ai Eva hom op middag voorgesit het.

Hier in Bethesda groei die boere heerlike Hubbard winterpampoen wat jy volgens die net ‘n Hobbelpampoen roep, dit maak nogal sin, want as jy dié pampoen wil pad af rol, gaan hy hobbel dat dit klap

Die hobbelpampoen het ‘n baie harde skil wat hom geskik maak om vir tot vyf maande gebêre te word, hoe langer hy lê, hoe geuriger en soeter raak die vleis. Ons pak die pampoene ry op ry, bo-op die braakdak van Klein Geluk. Dis ‘n mooi gesig die ou dak met die pampoene wat lyn lê.

As jy sukkel om die pampoen te sny, gooi jou stukke pampoen in kookwater en laat staan ‘n wyle, tot die skil makliker loskom, anders gaan jy soos in ‘n stoeikryt stoei om die skil af te kry.

Vandag het ek die pampoen in skywe gesny. Elke stuk is met olyfolie gesmeer, jy kan sonneblomolie ook gebruik, of margarien, of natuurlik botter as jy die luukse daarvan in jou koelkas het.

Sprinkel sout en witpeper oor die een helfte, [as jy roosmaryn het breek blaartjies bo-oor] van die pampoenskywe en bruinsuiker en fyn- of heelkaneel oor die ander helfte. Sprinkel pampoensaad oor en bak teen 180 °C, tot sag en bros.

Dit is heerlik. Bedien met sag gebakte skaapwors of natuurlik witrys en frikkadelle en sê ‘n paar prewel-dankwoorde ter gedagtenis van Ai Eva.

Liewe leser let wel dat ek baie eenvoudige resepte plaas, omdat baie mense baie min het in die spens. Skryf asseblief saam in kommentaar, op dié blog.

Dié taal van my hart


My hande lig en gryp na bo – woorde wat ek saam:

sin.

Om met woord te skep is ‘n gawe:

om stilte in woorde te vorm,

om woorde te ruik,

te proe en meeste van als,

styf teen jou se vas,

vas te hou.

In die tyd van Inperking, beteken my eie-woorde meer. Dit is asof ek in my soms-pyn-dae, in Afrikaans, werklik diep in my donker, kan ween.

Om te onthou hoe ek as kleinste kind nie die woorde gordyne kon klank nie – gerdyne het my mond gevorm, palalas vir paddas, pêde vir perde.

Vanaad in die stilte van die voorhuis, tewyl die vuur in die herd, my oë reis vat. Loop die reent buite dak, speel die lig-weer saam met die klank, van slag wat kaats-dans-trap teen die rante-se-kimme-se-rante. 

As ek vanag my oë sluit, sal my laaste gedagte Afrikaans, in woord spel?

Ek onthou paar jaar terug het die beeld-tydskrif DE KAT, met hul dertigste verjaarsdag te Woordfees Stellenbosch, hul gunsteling dertig skywers van dien vervloë dertig jaar gekies. Ek het die eer gehad om deel te wees van die dertig.

Ek daag die aand op, ‘n sypaadjie-kuier onder die akkers wat groen bloei. Oral om my die skryf-elite, en ek, alleen in my eie se wees. Uiteinde, staan ek nader na die wynvroue wat wyn skink en begin gesels, tewyl ek onder my oë al my ikone jeen, in my stilte bewondering alleen, myself knyp vir dié grote eer.

Ons stap binne, ‘n mooie langtafel in vorm van ‘n elmboog, gedek met wit damask, en op tafel bosse blom en ‘n skader van kerskandelare wat laggend dak lek. Op die kante van die tafel, naby mekaar en teenoor mekaar, almal wat skryf-legendes is.

Ek middel: alleen. Die wynvroue kom sit langs my.

So ‘n baie mooi, onvergeetlike aand. 

Na vele wyne stap ek na die kop van tafel en groet Ezilda. Sy verskoon haar om iemand te groet en los my in geselsskap van haar man, en een legende van die Afikaanse taal, wat in woord Afrikaans met mekaar dialoog, so, dat ek elke derde woord kan eien. Die res van die woorde vlieg swaeltjie bo my kop, alleen sonder begrip, uit gewoonte, noord-verby.

Ezilda kom terug en vra haar man: Papa weet jy wie hier lang jou sit. Nee sê hy. Sy sê: Dit is Niël Stemmet. Hy staan op, sy stoel skuif vinnig agteruit. Hy gryp my om die nek en druk my kop in sy skouer vas.

Hy kyk my stip oë: Weet jy Niël, toe ons verlede Kersfees deur Upington reis het ons by jou gastehuis tuisgegaan. Ons koop toe vir ons familie van jou boeke.

My ma was 94, die oggend toe ons haar kry, lê haar hande gevou, soos in bede, oor jou oop boek, wat haar bors vashou: sout+peper.

Ek was stom, hier is ek omring deur die room van Afikaanse Literatuur, en hier kry ek my grootste kompliment ooit. 

In haar laaste se oë, in lees vasgevang, het die woorde van sout+peper haar vergesel – op haar eenmaal alleen, se eie-reis.

In Afrikaans bly ek liev, stil, luid en ig. 

Ek droom in Afrikaans, die taal van my hart.

Altyd.

Ek skryf om woorde te vorm, nuut te skep, eie te maak, proe te maak, en jou te laat dink: Wat probeer hy hier pen?. 

Weet jy hoekom is my woorde so braak van korrekte Afrikaanse Woordeskat?.

Omdat ek skryf soos ek droom, in Afrikaans, rou, kaal, sonder formele sinteks, net soos dit is, net soos my mond  Afrikaans van geboorte ken: mÿ taal, mÿ mondval, mÿ woordvorm: die taal van my hart.

https://onlineradiobox.com/track/2233914602794943441/

Donker is die lig.


Soos my ma, is ek nog altyd lief vir die donker. Om in jou eie stilte te sit en net by jouself te wees, is ‘n kosbare meditasie met joueie, jy. 

Dié kosbaarste van tyd, wat jy jouself, jeen.

Ek vind hoe ouer ek word, hoe meer soek ek dié stilte op, in die spieël van my eie donkerte.

Die rede hoekom ek in Nieu Bethesda ‘n huis het en ook in De Kelders is die gebrek aan straat- en buiteligte. Seker omdat ek nog altyd ‘n plaaskind was of is. 

As jy eenmaal die sterre ken, waar geen stadslig of straatlig of buitelig jou oë beskyn nie, ken jy die mooiste van nag. En die nag is mooier as die dag, omdat jy bo jou, die jimmel kan sien.

Vanaand sit ek in die sitkamer en kyk deur die dubbeldeur na die tuin. Laatmiddag het die wolke begin stapel. Ek sê, hier kom reent, en kort voor lank val die eerste druppels. Die is net ‘n bui sê Noah, ja sê ek, maar die weer kan draai en weer kom kuier. 

Van skemer tot nou sit ek in die donker en sien hoe die flitse van weerlig die tuin kaats. Eers ver, dan nader, jy ruik die reent, nader weer, al-asof-in-‘n-wals. En daar begin die reent te dans op die sinkdak.

Druppels reent word musiek. Musiek, vir dié wat die klank van reent op ‘n sinkdak, as simfonie kan hoor. 

Donderweer laat my altoos aan Beethoven dink, sy Simfonie no 5 gekomponeer tussen 1804 en 1808. Was sy ore toe reeds dof, deurdat hy in dié beweging sy hoor, wou voel?.

Sy oë toe, terwyl hy die note in sy kop, alleen, kan sien-hoor?,

Ek onthou altyd op die plaas Dassieshoek, en later in die kuiers by Tant Annie en Tant Johanna naby Loeriesfontein, hoe ons saans om die gaslampe, aand geëet het. 

Om as kind te sit met die murmer van stemme om die tafel, kon ek vir ure wegdwaal in die klank van die gaslamp se ftt-ftt. Ek het altyd gekyk hoe die flint beweeg soos ‘n hart, met elke teug, ‘n asem, van gas.

Buite was die gerustellende klank van die diesel Listerenjin wat die elektriek koelkas en vrieskas gevoer het. Die enjin ‘n nag-geluid.

Na ete is ons almal kamer toe, ons drie seuns soos ‘n bondel katjies in een katel. Ek, oudste, slaap altyd regs, naaste aan die kers wat in die kamer skadus teen die mure gooi. Ons vat ons vingers en maak diere in die lig van kers. Ek onthou steeds, hoe jy ‘n jakkelskop oopmond tussen jou duim en wysvinger kon maak.

Dan die Listerenjin wat afskakel op die klok van negenuur. Dud, dud, dud, dud, hoe mis ek dié klank vanaand te hoor.

Die reuk van die bed: klapperhaar, die lakens Sunglightseep, ysterstrykyster en son. En dan, my gunsteling: ek maak my wysvinger en duim nat in my mond en druk die kers se pit keel. Die kersvet sit tussen my vingers vas en die reuk van uitgediende kerspit hang klam, in die stillenag, van kamer.

Ek onthou soveel ek kan onthou en in daai onthou is altyd, donker. 

Mag waar jy ookal in die wereld is, vanaand al wat lig is blaas. Mag jy opkyk en die jimmel sien sonder ligte, net die sterre en jy – dis al, dis genoeg. net dit. al. jy.

Want in die donker is daar lig.

Kool du Plessis sing:

Die donker kom van buite
En syfer deur die ruite
En ek gooi nog ‘n paar kole op die vuur
En die tafel en die laaikas
En alles wat eers vas was
Versmelt tot blote skadu’s teen die muur

Ons drome van gister
Word somber en sinister
Want kyk alles het ‘n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke
Maar die slopers is betrokke
En ons drome is bloot skadu’s teen die muur

Met orrelbegeleiding
Kom die voorspel tot die skeiding
Maar dis alles reg, die liefde is ‘n vuur
En van die vuurige hofmaak
Hoor ons later in die hofsaak
Want die liefde is ‘n skadu teen die muur

In swart of wit getooi
In ‘n stoet of in konvooi
Wonder elkeen hoelank alles nog sal duur
En leef holderstebolder
Want die kis wag op die solder
En die lewe is ‘n skadu teen die muur
En leef holderstebolder
Want die kis wag op die solder
En die lewe is ‘n skadu teen die muur
Die lewe is ‘n skadu teen die muur

Die donker kom van buite
En syfer deur die ruite
En ek gooi nog ‘n paar kole op die vuur
En my voete en my hande
Word ou bekende lande
In die skadukaarte teen die kamer muur
Die wereld word ‘n skadu teen die muur
‘n Flikkerende skadu teen die muur

biltong roep kind


Van klein-se-tyd was biltong altyd ‘n groot lekkerny vir my en seker vir al wat hom- of haarselwers Afrikaner roep.

Kom die voorwinter-se-tyd, het ek geweet ouma en oupa gaan biltong maak en sulke lang stukke buite in die sifkoelkaste of in die waenhuis op draad hang. Saans sien ek oupa by die gaslamp sit met sy knipmes met die ivoorhandvatsel. Ouma sit duskant hom, en brei. 

Daar is ‘n stilte na ete, amper ‘n gewyde stilte, asof daar seen om elkeen van ons se koppe boordjie lig. My ouma met haar sagte silwer-hare-golwe en die reuk van Oliekolonie in haar nek.

Hoe wens ek net vir een aand julle twee gelievde mense, hier by my tafel te laat aansit. Net om nog te vra, oopmond te leer, en elke oomblik saam met julle, diep in myself se hart te vererwe.

By die lig sit oupa by die tafel en kerf die die biltong in stukkies, wat hy een vir een onder sy kleinkinders uitdeel. Daarie tyd was daar niks van ‘n net-groente-kind nie. Ons is gespeen op vleis en klaar.

Terwyl oupa so kerf het hy altyd stories vertel, en saam met die kou het ons oopmond geluister na sy van-me-lewe-se-dae se vertelgoed. Ons ogies blink soos die aandster in die lig van die lampe waarom die motte, ek sê hand-om-lyf ‘n fokstrot dans.

Soms spring Skat, ouma se groot-grou-kat op die tafel en jaag die motte in die rondte om. Vlieg die motte om en om asof in nou.  Fliep maak die lamp, fliep-fliep-grsss-grsss.

In die Khoi-Khoi se tyd het hulle vleis in snye gesny en buite in die ooplug laat hang om droog te raak. Die Europese Setlaars het asyn, salpeter en speserye soos koljander en naeltjies bygesit en so het elke familie sy eie ‘geheime’ biltongresep gekry wat van geslag tot geslag, mond gedra is en elke winterseisoen gebruik is om biltong te maak.

Biltong is tradisioneel net van wildsvleis gemaak, omdat dit vollop was en kleinvee leef gehou is, om kuddes te bou.

Met die dat die Voortrekkers in die 1830’s vanuit die Kolonie binneland toe getrek het, is snye wildsvleis onder die saal van die perde gesit. So saam met die perdry en die saal bo-op se skud, het die vleis sagter geword en die geur van die perd deel van die vleis se geur gemaak. Ek weet nie so mooi van daai een nie.

Renata Coetzee vertel in Spys en Drank.

Daar was nie yskaste nie, daarom is vleis bewaar in ‘n mengsel van asyn, sout en speserye. Uit dié gewoonte het die maak van biltong ontwikkel. Die sogenaamde dikvleis , wilds-of beeskarkas is netjies, en volgens spier en die draad van vleis in repe uitgesny. Daarna is is dit met sout, droë speserye en salpeter ingevryf en met asyn besprinkel. Na ‘n nag of twee in die asynmengsel is die vleis, uitgehaal en droog gedruk en daarna buite opgehang om winddroog te word. Soms is die vleis in die skoorsteen van die huis opgehang om vinnig droog te word.

Vanaand wat ek hier by die eikehouttafel sit en Renate se Spys en Drank, wat langs my ooplê, aanhaal, sit sy oorkant my. Pienk lipstiffie, silwerblou oogskadu om haar oë, die blonde hare na agter gekam en om haar nek die blouserp in verf van Cezanne se waterlelies, wat ek by Musée de l’Orangerie, vir haar gekoop het.

Terwyl ons Mozart luister, kyk ek diep in haar stil blou oë. Ons gesels asof van ouds en sy deel haar wyshede en reseppe met my. Ek kyk na haar in die lig wat gloed om haar skouers en sê dankbaar vir die tyd wat sy haar lewe met my gedeel het. Ek mis haar daar waar sy bo tussen die sterre oë wys, en sê dankie vir ons tyd van vliedt.

Beesbiltong

5 kg agterkwart van bees

growwe sout

1 e koljander

200 ml sout

100 ml bruinsuiker

1 t salpeter

1 e koeksoda

2.5 ml witpeper

bruinasyn

Sny die vleis saam met die draad in stroke van so 40mm elk. Jy kan van die vet aanlos. Hoe minder die vet aan die vlees, hoe langer sal die biltong hou. As die biltong te lank hang kan die vet galsterig word. Bere vet biltonge in die vrieskas as jy die vet vars wil hou.

Rooster die koljander droog in ‘n ysterpan. Maal fyn en meng met die res van die bestanddele.

Vryf die vleis met die growwesout in en laat vir so een uur rus. Krap die ergste sout van die vleis af. Pak die vleis in lae, dikste stukke onder en besprinkel elke laag met die suikermengsel. Sprinkel bruinasyn bo-oor en laat vir 24 uur staan. Spoel die vleis af in water wat jy met bruinasyn gehits het. Hang die biltonge die eerste dag buite in die son. Daarna in ‘n koel droë plek, waar die wind lug kan trek. Biltong moet in droë lug gehang word anders sal dit muf.

Hier in Bethesda koop ons biltong by ‘n boervrou by name Ina. Sy ken van biltong maak, al geurgoed wat ek proe is sout, peper en asyn – so verkies ek nog al die jare moet biltong proe. Vir my is peri-peri, chilli en ander geurgoed, vloekgoed wat net, die smaak van die vleis verfomfaai.

Wiktionary: Borrowing from Afrikaans, from bil (“buttock, hindquarter”) (from Middle Dutch bille) + tong (“tongue”), from Middle Dutch tonghe.

Biltong is die no 1 versnappering in Suid Afrika.

Om met basilie pesto te kan maak


In vandag se toesluit-tyd-van-vyf-weke, waar ek op Nieu Bethesda woon, is vars groente en vrugte ‘n luukse. Jy kyk opnuut na wat jy self kan groei of by jou buurman kan skollie. 

Hier in Bethesda het ons goeie diepgrond soos oupa Koot sou sê en oorgenoeg boorgat en fonteinwater. 

Ons plant vir ‘n valle letterlik in al wat ‘n stukkie oopgrond is: kopkool, blomkool, spruitkool, slaai, alles wat in die winterkou kos sal wees

Vandag skoen-volg ek my oupa en ouma en my mense voor hulle se leef.  Enigiets wat jy kan oes en bêre word die belangrikste taak in jou dag. 

En, wat ‘n voorreg om so te kan dink. Ek leef weer in die dae van my kindswees, waar ouma se kombuis my kerk was en oupa-se-tyd my leerskool was. Uiteindelik het elke dag werklik betekenis en is my wens vir eendag se aftree-leeftyd, nou reeds waar.

My gevoelendheid is dat ons dié jaar saam met dié reentjaar, ‘n lang koue winter gaan hê. Die eerste kouefronte kom reeds week op week deur, die awendvliese maak pienk, die berg maak vroeg skadu. Die populiere begin al geel vlinders gooi, die voornag byt reeds koud. 

In die koue, lang winter gaan als wat vars is skaars wees. Ek beter vinnig spring om soos die eekhorings en miere bymekaar te maak. Verby is die dae wat jy in ‘n winkel kan instap en koop wat jou hart begeer, half ontevrede, omdat die tamaties kwansuus nie soet proe nie, die piesangs binne ‘n dag verlep, en die lemoene kompleet soos papier proe. 

Ons het vergeet van seisoene, ons het vergeet van tyd, ons het vergeet om saam met die seisoen te eet. Dit wat die natuur voorsit is wat jou liggaam nodig om gesond en sterk te bly.

Soos my ouma-se-mense in haar-se-tyd, kyk ek met soek-oë, na als wat in die geweste groei. In oog om bymekaar te maak, te verwerk en te bêre, sodat daar in die koute van die winter steeds vars sal wees, wat jy mond kan vat.

Ek lees weer my ou kookboeke, een vir een van Leipoldt, tot by Hildagonda Duckitt tot by my kosma Renata Coetzee se Koekemakranka. Het julle drie, ooit kon raai dat in vandag se dag, julle boeke opnuut kosbaarhede sou word?. 

As iemand my sou vra: Wat sal jy red uit jou huis as daar ‘n brand is wat als verwoes? My antwoord: Ek sal so veel ek kan dra van my ou kookboeke red, want in hul blaaie lê die antwoord vir ons nuwe lewenswyse se behoud.

Dit wat ek vir ouma en oupa vandag sou vra, lê tussen jul blaaie oop vir my om te lees en te leer. Die belangrikste les is kook saam met die seisoen, en bêre als wat jy kan inlê vir die winter se dag.

Ek bedel in die straat af en kom af op ‘n lap grond met genoeg basiliekruid en knoffel om ‘n Italjaner se hart van blydskap te laat klop. 

Basiliepesto

5k vars tuin basilie

5 knoffelhuisies

1 ½ k geroosterde sonneblomsaad

2e vars suurlemoensap

1 ½  k olie – as jy olyf het soveel beter

1k fyn gerasperde sterk kaas – parmesan as jy kan kry

1t gerookte paprika – opsioneel

Sout en maalpper na smaak

Blits alles saam, voeg kraanwater by indien die pesto te dik is.

Gooi in ysbakkie-houers en vries, tot jy nodig.

Hierdie is heerlik netso saam met gekookte pasta, roer die pesto deur die pasta. Maal swartpeper oor en ‘n paar strale olyfolie.  Of gesmeer op bruinbrood met ‘n bakeier. 

Skryf asseblief saam, jou gedagtenis aan die ouse dae, dalk ‘n resep.

die maan lig wit-se-lig


Vanaand, met die volmaan wat bo die berge lig, beleef ek dié nag hier só mooi.

Die maanlig wat sluier, sluier deur die strate loop, bo-oor die sederbome se pieke, oor die nokke van huise waar almal slaap, tot hier in die tuin, waar die rose asof getower deur die maan spierwit maantoe lig.

Op die dam speel die maan tweeling, ek kyk en sien my gesig in die water se spieël, ek raak ouer, ons almal raak ouer. Ons hou ons besig op Instagram, facebook, ek kyk die nuus op CNN, Media 24, BBC en probeer vergeet dat daar ‘n ander wereld anderkant die vallei, van Nieu Bethesda se berge, bly.

Die Kompasberg getooi in die maan se staf. Die berge om hom ‘n nagsnoer in wit.

Ek kyk op na die maan.

Ek is niet vir die maan.

Ek is ‘n spikkel stof. 

Jy sien alles Maan. Van die skep van die aarde is jy deel, sien jy alles wat op aarde weeg, soos jy stil deur die kosmos vleeg. 

Huil jy ook bakhand vanaand, jou palms na jou oë se lig.?

Of vliet jy dié oomblik, in-die-verby, asof die miljuisende sterre jou, wegroep.

Venus is helder vanaand. Ken jy die pyn van die aarde, in nou, Venus?. Of lig jy wetend, hoop?.

Die skrywer se woorde word stom vlerke.

Stil-stil, voet voor voet, stap ek buite in die tuin. Ek kyk op na die volmaan wat alles lig. Kyk, sien jy die rose wat, asof bruide in die nag-stil, in my hande foto word?.

Ek kyk op: Kan dit wat gebeur, waar wees, vra ek dié nag?.

Sy swyg. Ek vra weer. Is dit waar ?.

Sy swyg. Ek stap binne-toe. Trek die gordyn na die stoep toe, asof ek die wereld buite, nael-wil-string, knip. 

Ek probeer vrede kry in myself, maar my keel trek toe. Ek gaan sit in die sitkamer, kyk uit oor die tuin. Die wit ysbergrose staan soos duisende kerse, vier en brand.  Die vuurvliegies kom kuier teen die ruit. Flits, flits, battery – hulle dansend verby.

Ek hou my woorde vas.

Alleen, die maan en ek. 

Ek vra die maan om oral waar sy baan, mense stil vas te hou.

Want ons nodig lievde nou meer as ooit, en lievde is hoop.

Seblief liewe maan: Roep die engele.

Die vlerke van die engele is oral, van hier in Suid Afrika, Italië, Frankryk, Engeland, Ysland, Argentinië, in elke land wat die aarde hand voeg, is daar Engele wat wag om mense, kinders, oumense, enigeen te neem, op reis saam met die engele.

En terwyl daar ‘n maan is, is daar hoop.

Dit wat nou is sal veen, dit wat nou is sal gister word, dit wat nou is sal eendag, lank gelede word. Dit wat nou is, sal in stories vertel word, menigte jare van nou.

En dan sal die maan weer vol oor die berge skyn, en weer die mens stilmaak.

Die maan sal wees, altyd, al is ons niet.  

So ook die engele.

Liewe maan – Uit die FAK

Liewe maan, jy seil so langsaam deur die awendwolke heen.
Jy’s so kalm en ook so rustig; kon ek daardie rus maar leen.
Treurig staar ek in die verte na jou stille eensaam baan.
O, hoe wreed is tog die noodlot–nooit sal ek na jou kan gaan.

Liewe maan, ek wil my smarte aan jou luist’rend oor vertel,
wie dit is wat steeds my harte met ‘n teer herinn’ring kwel.
My geheim is by jou veilig; sien dus maar my trane aan.
My verlange is my heilig, maar ek weet jy sal verstaan.

om nag te lig


Vanmiddag, Sondag – 5 April 2020, sal ek onthou tot ek eendag, my oë se luike toemaak.

Dié ontelbare mooi het ek nog nooit ervaar in dié tyd, wat die nag die dag groet nie.

Geen woorde kan verf, wat ek in my bede nie. 

Lig is altyd mooi, om buite te wees en lug te adem, veral as jy op jou eie tree, voet stap. 

In my kindsjare was Sondaemiddag altyd: uitry – plaastoe vir kuier. Melktert, koeksisters, sjokoladekoek en botterbroodjies saam met potte moerkoffie en Engelse tee, gemmerbier en rooi koeldrank op wag vir die dorpsmense se besoek. 

Die stilte van die voorhuis van die opstal, die slaan van die staanhorlosie: gong, gong, gong. Die reuk van die gebak vanaf die voordeur se loop, af in die houtvloer-gang, tot in die kombuis.

Buite die teetafel keurig gedek met gestyfde wit damask, ‘n ruiker bont dahlias in ‘n kristalvaas, die Royal Albert teestel met die rooirosies uitgepak, die gehekelde doillies op die pierings en die goue teelepels. Neffens die koekbordjies, die vurkies wat pienk blom met die ragfyn servette wat daarin kant wig.

Onder die bloureen-prieël ruil die grootmense nuus uit, politiek altyd deel van die gesprek en die naweek se krieket of voetbal. Ons kinders speel jaagmekaar op die groot groen grasperke, vroteier en laatmiddag, voor ons groet, in die skemer, wegkruipertjie.

Die Sondagkuiers onthou ek, soos gister en hoe die kuier my altyd lig en vol laat voel het van die warmte. Die son wat my wange blos, die reuk van die plaas aan my lyf.

Vandag, Sondag, agtermiddag, vat ons die pad via Doornberg na die Kompasberg. 

Die veld is lui groen, die beeste spekvet, die populierwoude begin verkleur, ek tel orange, rooi en geel. Ek het nog nooit oranje en rooi saam in ‘n populier gesien nie. 

Miskien was dit die voorspel vir die aand se son, wat na dié dag, gaan slaap.

Ons stop om foto’s te neem, ry ‘n paar honderd meter, stop weer. Voor my, agter my, om my, bo my – oral is onbeskryflike kleur.

Jean sê dis die selde as die Noorderlig, wat jy aan die bo-pool van die aarde in die winter, sig. 

Ek stem, in plaas van fluoresserende groen, geel, blou en pers staan ons verstom vir die Suiderlig van oranje, rooi en pienk. 

Op elke tree, draai ek om en hou ek my hand voor my mond, asof my asem te keer, om die nagwind, te vat.

Daar is soveel mooi in die natuur, soveel simfonie, soms soos vanaand is dit of Puccini se La Bohème, om my in La Scala – volbors aria.

Besef ek hoe niet ek is in die plek wat ek aarde voet.

Ek deel met jou vanaand:  lig. 

Jare gelede het oorle Ds. Deon van Niekerk, op ’n Sondagoggend, in die diepwinter, in die Museumkerk in Upington gepreek – ek is seker hy het vanaand langs my gestaan. Sy arm om my skouers.

“God het gestaan voor ‘n wit doek, hy het kwaste verf geneem en die grond en gras bruin en groen geveeg, die koppies swartbruingrys geklip, die lig hemelblou.”

Vanaand het die Hy elke kleur van oranje, rooi, blou en pienk gevat en Sy meesterstuk oomblik, vir oomblik, vir oomblik, vir oomblik, vir oomblik. Voor ons geverf..

Jy hou jouself vas,

jou gedagtes jimmel, 

jou oë veeg nat, 

jou hart is so vol, 

so vol, 

dit voel of jou bors gaan splinter. 

Jy vat jou gedagtes hoër en hoër. 

Jy word stil in jouself, 

neem jou hande lig 

en

seen met ooppalms 

die wereld 

en 

almal 

wat in soveel  

onkeerbare, 

ontseglike, 

onbeskyflike

diepe 

pyn

ween. 

Jy word lig. 

die donkie is ‘n wonderlike ding…


Chris Blignaut sing tweetoon saam met die honkie-tonk kitaar, met soveel genot en humor jy kan jouself sien sy sit met ‘n glas brandewyn, jou oë  vergete in staar in die doringstompies wat kole verf.

Om jou ‘n dosyn, of meer stemme, wat murmel in die naglig. Sonbesies, krieke, veraf honde wat blaf, die hoet-hoet van die uile. Die nag se stille adem.

Hoe langer ek bly in my nuwe lewe in Nieu Bethesda, hoe rustiger raak ek. My dae verwyl ek deur tuin te maak, huis skoon te maak, wasgoed te was, en saam met die herfs se son-dae groente, kruie en vrugte in te lê vir die komende winter.

Elke dag mis ek my ouma en oupa. Verstaan ek nou, hoe gelukkig hul lewens was, om saam met die dag, elke dag hul lewe werklik – te leef. 

Vandag, in dié tyd is alles wat eens was, weer nou. 

Verkyk ek my na die valk wat bo teen die kop blou swiep. Hoor ek die tortels wat in die peperboom son-koer-koer. Verby stap Waai met die bokke en skape, die stilte van die stof se straat loop lied met die  klank-lui-klink-klank van die boerbokke.

Ek herdenk my jeug en die sorgelose dae op die plaas, waar die son aan jou ruik, jou hande grof is van werk, jou lyf lenig, jou gedagtes stil in die natuur se lied.

Ek was  jarelaas so gelukkig.

Vanmore stap ek en Karin na die winkel op die dorp.  Die winkelier, Saju het op Whatsapp foto gewys van sy vars produkte, wat hy van Graaf Reinet laat bakkie het. Grootdorp toe gaan is taboe, en onnodig as jy dié kleindorp se bestaan, asof eie aantrek en in eenvoud koop.

Buite staan die ry kopers. Soos in Noag se dae word ons twee, twee toegelaat om deur die winkel te stap en ons kopies toonbank te dra.

Opgewonde sien ek groenboontjies,  blomkool, tamaties, komkommer, beet en vars pere. Alles edelgroente sonder ghrênd verpakking. Verby is die dae van keuse, en koop dit wat onnodig is. ‘n Vars peer is soos om ‘n boks tjoklits te vind. Jy ruik die peer en veeg hom teen jou wang. Jy glimlag vir die eenvoud van is. 

Oppad terug neem ek dié kiekie van die donkie mamma en haar vul. Gewoonlik is hulle mensesku, vandag stap ek nader en vry haar kop, terwyl die kjind kopstamp om tiet te suie. Die natuur pas aan met die pes, die aarde word weer aarde.

Geseend is dié dag, en saam sing ons: sen-twee-drie:

o, die donkie is ‘n wonderlike ding, ja-nee 
die donkie is ‘n wonderlike ding 
die donkie is ‘n bonkel, hy’s ‘n boetie van ‘n muil 
sien die een die ander, 
dan begin hy sommer huil 

ja, die donkie, o, die donkie, 
die donkie is ‘n wonderlike ding 
sy kop is so groot, dit lig sy agterpoot 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

ja die donkie is ‘n wonderlike ding 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy trek as hy staan en hy vrek as hy gaan, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

ja, die donkie is ‘n wonderlike ding 

ja, die donkie is ‘n wonderlike ding
hy staan teen die draad 
en hy loer op die straat, 
die donkie is ‘n wonderlike ding 

o, die donkie, ja, die donkie, 
die donkie is ‘n wonderlike ding 
die donkie is ‘n bielie, 
hy’s ‘n boetie van ‘n muil, 
sien die een die ander, 
dan begin hy sommer huil 

ja, die donkie, o, die donkie, 
die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy rol in die sand en hy vreet ‘n koerant, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding. 

Ja, die donkie is ‘n wonderlike ding, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy staan en dink, 
want die muishond stink, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding. 

La li la li la ………………. 

O, die donkie, ja die donkie, 
die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy staan en hik met sy kop in ‘n mik, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

ja-nee, die donkie is ‘n wonderlike ding 
die donkie is ‘n bonkel, 
hy is ‘n boetie van ‘n muil, 
sien die een die ander, 
dan begin hy sommer huil 

ja, die donkie, o die donkie, 
die donkie is ‘n wonderlike ding. 
Hy rol in die sand 
en hy vreet ‘n koerant, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

o, die donkie is ‘n wonderlike ding 
ja, die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy gaan soms kuier by sy donkie vryer, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

ja, die donkie is ‘n wonderlike ding 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 
hy lek haar aan die nek 
en hy kou haar aan die bek, 
o, die donkie is ‘n wonderlike ding 

aartappel se sop


Om my eerste storie te skryf, na vier jaar, moet ek die tyd in nou byvoeg. Dit is 01 April 2020, die aarde treur en 7.8 biljoen mense saam met haar. Niks gaan ooit weer dieselde wees nie. Dit wat goud was is nou klater. Dit wat geld was is nou niks. Dit wat tyd was is nou alles.

Ek sit by die Eikehout-tafel in skryf. Neffens my Pikkie se koperblaker met die kers wat saam met my oë lig. Dis doodstil buite, halwe ‘n paar krieke wat orkestreer en die twee uile wat roep op die gewel van die huis wat 140 jaar gelede gesooi is.

Saam met my staan die voorgeslagte van die huis in ‘n sirkel en woord saam met my.

Ek kry rus in skryf, my oë het die week gehuil, die seer van die wereld gebulk uit my hart, soveel droë snikke wat my ruk en vashou.

Om sensitief te wees is ‘n voorreg, jy dra mense saam met jou en wil al wat is, net lievde jeen.

Ek eet eenvoudig in dié tyd, dis asof ek die swaar van ander moet bid. Ek sê vir myself hoe kan jy soveel hê as ander minder as niks had om te eet.

Hier is ‘n paar hande aartappels wat gekook moet word. Ek sny in kwarte, saam met 2 uie en plaas in die potysterpot op die stoof. Die hitte moet laag wees. Ek gooi warm water oor om die aartappels te bedek, gerasperde neut en wit peper. Stadig prut ek die aartappels tot hul neffens van sag is. Ek sit een gesnyde skenkel in saam met ‘n paar tamaties wat oorryp is. Die deksel seël die pot en langsaam prut die kos. Die vleis het ek nie gebruin nie, ek wou vanaand vaalkos eet.

Ek roer met dien ‘n groot lepel botter by, sout en ‘n bietjie suiker.

Ek sit aan en eet die aartappelsop uit ouma Nellie se Alfred Meakin sopbord met tannie Vonne se vererfde silwer.

Laat my dink aan my vriendin Ami, sy het altyd vertel dat toe sy en haar man op Witdorp gevoorman het, hulle een lam gekry het per maand. Hoe later in die maand hoe minder die vleis. Ek vra toe nou hoe maak julle dan. Sy sê is ons maak ‘n lang sous.

Geseend is almal vanaand. Hou hand vas as jy iemand by jou het en sê dankie dat jy dié dag tot jou lewe kan voeg.

Klein Geluk – Nieu Bethesda.